“Julle kan hulpbronne verskaf vir mense wat jul kabels steel, maar nie vir mense wat jul eie werknemers doodmaak nie. Dit werk nie so nie,” het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, gesê.

Lesufi het Woensdagoggend ’n groepie gemeenskapslede toegespreek wat buite die Pieterboth-substasie buite Springs betoog het.

Die groep wou antwoorde hê by Eskom oor hoekom die 29-jarige vrou se liggaam in ’n geslote vertrek Maandag ná vieruur gevind is nadat Eskom-werknemers ’n vreemde reuk gekry het in die gange van die substasie waar sy gewerk het.

Sy is op 17 Mei as vermis aangemeld.

Vroue vermoor

Lesufi het gesê daar is geen manier dat mense kan stilbly oor wat gebeur het nie.

“Ons kan nie arms gevou sit terwyl ons vroue aangeval en ons geliefdes se liggaam gevind word nie. Dit moet tot ’n einde kom.”

Lesufi het gesê hulle moet ’n duidelike boodskap stuur aan misdadigers wat dink dis “oukei” om vroue dood te maak.

“Ons kan nie ’n land wees wat oorlog teen sy eie vroue voer nie. Ons kan nie ’n land wees wat nie omgee oor sy eie vroue nie. Ons kan nie ’n land wees wat die liggame tel van vroue wat sterf nie.”

Lesufi het ’n beroep op wetstoepassers gedoen om die ondersoeke na moorde op vroue te prioritiseer.

“Stel ’n spesiale taakspan aan om te verseker hierdie kwessie word ondersoek en dat ons oplossings vir die probleme vind.”

Die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa) wou hê die polisie moet ondersoek of Eskom nalatig was in die hantering van die Yende se verdwyning en dood.

“Ons doen ’n beroep op Eskom en die Suid-Afrikaanse Polisiediens om alles in die stryd te werp om die omstandighede rondom haar dood te bepaal. Ons hoop die ondersoek sal lig werp of Eskom inderdaad nalatig was in die wyse waarop die dood van een van ons lede hanteer is,” het die vakbond in ’n verklaring gesê.

Kameras buite werking

Numsa het ook kommer uitgespreek oor Eskom se kameras wat nie op die dag van Yende se verdwyning gewerk het nie.

Hulle het bevraagteken hoekom die semi-staatsinstelling se aanvanklike ondersoek geen resultate opgelewer het nie, asook hul stilswye oor haar verdwyning, ondanks die feit dat haar motor in die parkeerterrein was nadat sy as vermis aangemeld is.

Haar broer, Mboneni Yende, het Dinsdag aan News24 gesê die familie kan nie haar dood verwerk nie en is teleurgestel in die wyse waarop Eskom die situasie hanteer.

“Toe ons na haar begin soek, het ons geen hulp van Eskom ontvang nie. Tot op hede het ons nog geen steun van Eskom ontvang nie. Hulle het ons nog nie eens besoek nie,” het hy gesê.

Op ’n vraag oor hoekom niemand agtergekom het die deur is so lank gesluit nie, het Khulu Phasiwe, Eskom se nasionale woordvoerder, gesê: “Dis ’n afgeleë terrein met klein kantore. Dis buite Springs geleë. Dis nie soos normale kantore waar mense elke dag in en uit beweeg nie.”

Bron: News24