“Daar sal Maandag geen kragonderbrekings wees nie. Ons kon steenkoolvoorrade na twee van die ses eenhede by Majuba herstel. Dit beteken ’n derde van die sentrale se gewone kapasiteit is weer beskikbaar,” het die woordvoerder Andrew Etzinger gesê.

“Gevolglik sal Eskom nie deur die dag kragonderbrekings instel nie. Maar die stelsel is steeds onder druk en ons vra verbruikers om die res van die week spaarsaam met elektrisiteit om te gaan.”

’n Steenkoolsilo het Saterdag by die Majuba-kragsentrale gekraak en later ineengestort. Andrew het gesê gevolglik is die vervoerbandstelsel beskadig wat steenkool na die kragsentrale vervoer.

Sondag is alternatiewe reëlings gebruik om die nodige steenkool te lewer.

“Vir eenhede een en twee moet ons die steenkool met vragmotors aanry,” het hy gesê.

“Toe is dit op mobiele vervoerbande met behulp van voorlaaiers gesit. Tans word 1 200 t per uur ingebring.

Eskom werk aan ’n soortgelyke oplossing vir eenhede vyf en ses.

Andrew het gesê eenhede drie en vier is nie geraak nie.

Dit behels ekstra werkkrag en koste, maar Andrew kon nie onmiddellik ’n bedrag gee nie.

- Sapa