Die aangenome seun van die vooraanstaande Meintjies-egpaar – Charmaine en Neville – van SABC2 se 7de Laan-sepie, is vir die eerste keer verlief en dit lyk asof die jong aktrise op wie hy sy hart verloor het, waarskynlik van haar trollie af is.

Die vlam tussen Errol (vertolk deur Christo Davids) en Tarryn (Kay Smith) het ’n paar weke gelede begin brand toe hulle Stasie Ses se pakkamer moet regpak en per abuis vir ’n paar uur alleen daarbinne toegesluit is.

Kort daarna het Errol haar gevra om sy meisie te wees, maar dit was nie lank nie toe kykers begin lont ruik oor Tarryn se wispelturige persoonlikheid en agterbaksheid . . .

Eers het sy Errol se kitaarsnare bygedam en verlede week het sy hom omtrent uitgetrap toe hy nie vir haar blomme na die openingsaand van haar teater-opvoering gebring het nie. Dis nou nadat die arme drommel homself poegaai gewerk het om vir haar ’n romantiese uitstappie ná die uitvoering te reël.

Vir Tarryn was dit nie goed genoeg nie en haar giftige tong het vandeesweek vir nog manewales gesorg. So het sy nou al vir Errol gemanipuleer dat hy sak en pak uitgetrek het by sy aanneemma, die liewe Charmaine, en saam met haar in die Heights huis opgesit het. Hul eerste aand in hul nuwe nessie was stormagtig en teen die einde van die aand, het Tarryn van hul skamele breekgoed teen die muur stukkend gegooi…

A photo posted by @faheemz_ on

Soos sake nou staan, lyk dit asof die kykers (en Errol) hulself sal moet staal vir die streke van sy krulkop-meisie.

Op 7de Laan se Facebook-blad het dit ook omtrent gegons oor dié nuwe sepiefeeks se doen en late:

Mariette Du Toit: Tarryn moet ’n brug bou en oor haarself kom, sy het te veel issues – sy lieg en belieg vir Errol. Nee wat, sy suck en is onvolwasse. Asseblief, doen ons almal ’n guns en haal haar uit die Laan en kry vir Errol ’n ordentlike, opregte dame in sy lewe. Hy het al genoeg ongeluk gehad.

Amanda Moore: Die girl se vervaldatum is lankal oorskry; haal haar asseblief uit die Laan. Errol het al genoeg drama in sy lewe gehad, hy verdien ’n opregte, normale meisie.

Trudie Kleynhans Liebenberg: Dis Errol se eie simpelheid. Hoe onnosel moet jy wees om nie te sien Tarryn vermis ’n plaas vol varkies nie. Om te dink jy kry rêrig sulke desperate mense en dan kan hulle nie verstaan hoekom hulle nie gelukkig is nie.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Mamma Mia! Abba-aanhangers sal hiervan hou

Liefde by die Dam: Francois van Coke kan skaars wag

Terreurwaarskuwings: Só skerp inkopiesentrums in Kaapstad, Johannesburg veiligheidsmaatreëls op

Bisarre foto’s en video’s: So versorg ’n mens jou hare en naels in die ruimte . . .

Polisie se skokontdekking by Kaapse kleuterskool