“Verbruikers moenie produkte koop met beskadigde verpakking of verstreke vervaldatums nie, en moet produkte se etikette noukeurig lees,” het die NVK-woordvoerder Trevor Hattingh Maandag aan Health24 gesê. Parmalat het sy ondersoek afgehandel na sowat 60 L PureJoy-appelsap wat met bytsoda besmet is ná ’n onbeplande reinigingstap op die verwerkingslyn. Die suiwelvervaardiger het in Februarie alle PureJoy-appelsap van 200 ml onttrek wat op 14 en 15 Desember 2014 vervaardig is met die “beste teen”-datum 14 en 15 Desember 2015. Die meeste van die verspreiding was in die Wes-Kaap.

Health24 se dokter Heidi van Deventer maan dit kan baie gevaarlik wees om bedorwe kos te eet.

Trevor het gesê die kommissie het met Parmalat vergader om die oorsaak van die besmetting te bepaal en die onttrekking te monitor.

“Ingevolge artikel 60 van die Wet op Verbruikersbeskerming het die kommissie ’n statutêre verpligting om te sorg dat enige produk-onttrekking deur ’n verskaffer doeltreffend is en dat die verbruikers teen skade beskerm word,” het Trevor gesê.

“As sodanig het die kommissie die onderneming se onttrekkingstrategie beoordeel om die akkuraatheid daarvan te waarborg, die instelling daarvan gemonitor, en onafhanklike monsterinspeksies by talle supermarkte in die Wes-Kaap-streek uitgevoer om te verseker die produk is uit winkels verwyder,” het hy verduidelik.

Trevor het bygevoeg hulle het ook maatreëls bespreek wat Parmalat ingestel het om te verhoed dat die probleem weer voorkom. Parmalat se woordvoerder, André Mahoney, het aan Health24 gesê die suiwelvervaardiger het met die NVK gekommunikeer. “Van die oomblik dat hulle die onttrekking begin het, het ons hulle van opvolgverslae voorsien en hulle na ’n perseelondersoek genooi,” het hy gesê.

“Voorts het ons met senior verteenwoordigers van die NVK by ons kantore vergader en ons ontleding van die oorsaak van die probleem en die manier waarop dit hanteer is, gedeel.”

Al het die NVK aangedui sommige optredes kon verbeter het, het André gesê die kommissie is tevrede dat die algehele reaksie baie voordelig vir die verbruiker was. Parmalat het die publiek verseker sy PureJoy-sap en al sy ander produkte is veilig vir gebruik.

Verbruikers vertolk dikwels die datums verkeerd wat hulle sien op die produkte wat hulle koop. Jy kan hierdie as ’n riglyn gebruik:

  • Die vervaldatum – Dit is die datum waarop voedselprodukte nie meer veilig is om te eet nie.
  • Gebruik teen en Beste voor – Dié datums dui vir die verbruiker aan wanneer die produk hul top-varsheid bereik.
  • Verkoop teen – Hierdie datum is ’n voorraadbeheerhulpmiddel om kleinhandelaars en voedselbereiders te help sorg die produkte in hul winkel het nog ’n lang raklewe nadat die verbruiker dit gekoop het.

Health24 se dokter Heidi van Deventer maan dit kan baie gevaarlik wees om bedorwe kos te eet.

Sy raai enigeen aan wat dink hulle het dalk bedorwe kos geëet om op die uitkyk te wees na die waarskuwingstekens van voedselvergiftiging. Dit sluit in koors, hoofpyn, maagpyn, naarheid, vomering en diarree.

Sy sê enigeen wat hierdie simptome toon, moet dringend mediese hulp kry.

“Voedselvergiftiging is baie gevaarlik vir volwassenes, maar veral vir kinders – hulle ontwater blitssnel en dit kan lewensgevaarlik wees,” maan Heidi.

Health24

Skrywer : Adiel Ismail, Health24