NÁ ’N nag van ‘‘baie whisky en moeite’’ kon jy die ou sedan se bakwerk glad nie meer sien nie. Die Opel Monza was net een harige swart wolbal. En dis presies hoe dit gaan bly.

Want al bult sy beursie dalk binnekort met genoeg geld om dié studentekarretjie met ’n luukse motor te vervang, dínk Erik Holm nie eens daaraan nie. Ghetto bly nes hy is, ‘‘fur en al’’, lag die akteur wat die rol van die skatryk sakeman Rian Malherbe in die sepie Binneland Sub Judice vertolk.

Dan bedink hy hom, want die aantreklike donkerkop met die stoppelbaard wat die afgelope drie jaar in ’n rolstoel oor die weg kom, word op die oomblik nog deur ’n bestuurder rondgery ‘‘Wel, ek sal hom natuurlik aanpas sodat ek hom weer self kan bestuur,’’ sê hy.

Die 28-jarige skrywer en sanger se ligblou oë flikker vol lewenslus. Ná daardie dag in Augustus 2007 toe hy in ’n vlak dam geduik en verlam gelaat is, was hy baie dae terneergedruk en moedeloos. Maar deesdae gaan dit nie net goed met sy karakter, Rian, wat op trou staan met Stefanie nie.

Dis vandag ’n nuwe Erik wat hier by die Binneland-ateljee in Randburg met ons gesels. Met tye raak hy so opgewonde oor sy lewe dat dit lyk asof hy enige oomblik uit sy splinternuwe rolstoel gaan hop.

Erik het in 2007 saam met ’n groep kinders vlugbal gespeel op ’n baan langs ’n dam toe die bal in die water beland het. Toe hy induik om die bal te kry, is sy nek gebreek en hy is sedertdien ’n kwadrupleeg. Hy het kort ná die ongeluk ’n siviele eis aanhangig gemaak.

Ná die ongeluk was hy ’n kwadrupleeg, en sy lewe het vir ’n tydjie tot stilstand geruk. Maar nou is hy weer volstoom aan die werk en die lewe lyk mooi. Hy het pas ’n siviele eis gewen teen die ontwikkelaars wat die LakeUmuzi-waterfront-winkelsentrum in Secunda bedryf waar hy sy nek gebreek het toe hy ’n bal uit die water wou haal.

Nou moet die bedrag van die skadevergoeding net bepaal word.

“Ek kan nou sê ek het berusting gevind,’’ sê hy. “Die ongeluk is ’n hoofstuk wat nou uiteindelik afgesluit is.’’

Lees meer in die Huisgenoot van 29 Julie 2010.