“WAT is ’n flirt nou weer in Afrikaans?” wonderErica Wessels hardop. “ ’n Flerrie, natuurlik!” onthou sy dan self met ’n borrelende lag.

Dis Erica (31) op die kassie deesdae – ’n regte, egte Delila en ook een van die jaar se blinkste sterre in die reekse Erfsondes en in Vallei van die Sluiers.

In Erfsondes speel sy twee rolle – dié van Amorey en van haar tweelingsuster, Adeley. Die poppe het behoorlik begin dans toe die geestesversteurde Amorey vir Adeley vergiftig en daarna haar identiteit oorneem.

Erica speel die twee susters met soveel oortuiging dat sommige kykers glo hulle sien werklik ’n identiese tweeling op TV. Die rolle het haar vermoë as akteur behoorlik beproef en sy moes kophou om getrou aan elke karakter te bly.

In kykNET se Vallei van die Sluiers is haar karakter, Deirdre Mohr, “sommer baie los met haar lyf, ’n regte verleidster wat die oë laat rek”, sê Erica.

Haar listigheid veroorsaak groot drama in die gemeenskap van Kaapse vrugteboere.

Sy hou nogal daarvan om “gekompliseerde baddies” te speel, maar die lekkerste van Vallei van die Sluiers was vir haar om in die geselskap van soveel groot name te wees wat sy al jare lank bewonder: André Rossouw, Michelle Burgers, Albert Maritz, Lida Botha...

“Hulle was my rolmodelle. Dis wonderlik as jou kleintyd-drome waar word . . .”

Die  twee TV-reekse is so gewild dat Erica byna oornag in sitkamers regoor die land bekend geword het. Maar eintlik is sy al lank ’n gerekende aktrise, veral in teaterkringe. Kenners vergelyk haar talent met dié van veterane soos Sandra Prinsloo en Jana Cilliers.

Lees meer oor Erica in die Huisgenoot van 17 Junie 2010