Die enigste ding wat vreesaanjaender is as om met ’n siek kind hospitaal toe te jaag, is om net so weer te moet teruggaan huis toe sonder enige antwoorde oor jou kind se gesondheid.

Dit is die penarie waarmee ’n SuperMa in ons Facebook-gemeenskap sit nadat haar driejarige dogtertjie onlangs vermoedelik ’n epileptiese aanval gekry het. Nadat hulle met haar ongevalle toe gejaag het, is ’n reeks toetse uitgevoer, maar al antwoord wat hulle kon kry, was dat hulle maar moet wag tot dit weer gebeur voor die dokter medikasie kan oorweeg.

Net omdat een dokter jou nie kan help nie, beteken nie jy mag nie ’n ander dokter se mening ook vra nie, sê dr. Hester van der Walt, ’n pediater van Vredenburg. “Ouers moet vrae vra tot hulle tevrede is met die antwoord wat hulle kry,” sê sy.

“As jy dit nie by die eerste dokter kry nie, kan jy ’n tweede mening by ’n ander dokter kry.” Sy verduidelik die skuld lê gewoonlik nie by die dokter of by die ouers nie – albei dra werklik die kind se belange op die hart – maar eerder by onvoldoende kommunikasie.

Wanneer jou kind siek is of in die hospitaal beland, kan jy:

  • Jou dokter vra om jou kind se toestand in eenvoudige terme te verduidelik.
  • Die dokter vra om jou na ’n spesialis te verwys met meer kennis oor die toestand.
  • Meer oplees oor jou kind se toestand en dan met vrae na jou pediater toe gaan sodat jy kan verstaan waaroor die toestand gaan.
  • Jou kind se simptome aan die dokter verduidelik. Selfs al kan hy nie jou kind diagnoseer nie, kan hy jou steeds die simptome help behandel.

Raad oor epileptiese aanvalle

’n Epileptiese aanval kan ’n vreesaanjaende en ongemaklike situasie wees. Volg die volgende raad wanneer dit gebeur:

  • Skuif los items uit die pad sodat die kind hulself nie seermaak nie.
  • Maak enige stywe klere los, veral rondom die nek.
  • Sit ’n kussing of iets sags onder die kind se nek.
  • Draai die kind op hul sy.
  • Tel hoe lank die aanval duur sodat jy die inligting ná die tyd aan dokters kan deurgee.

Bel ’n ambulans as:

  • Die kind tydens die aanval seergekry het.
  • Die kind water gesluk het.
  • Die aanval langer as vyf minute geduur het.
  • Daar geen geskiedenis van epilepsie is nie.

MOENIE

  • Enigiets in die kind se mond sit omdat jy dink dit sal keer dat hulle hul tong insluk of verstik nie. Dit is ’n mite dat iemand tydens ’n aanval hul tong kan insluk.
  • Die kind op die grond probeer vasdruk nie.
  • Mond-tot-mond-asemhaling probeer toepas tot die aanval nie verby is nie. Pas dit slegs toe as die kind ná die aanval nie asemhaal nie.

- Mieke Vlok

Ekstra bronne: kidshealth.ca, epilepsy.org.za, webmd.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.