Cornél was besig om ’n vurktandheining te installeer, toe die leer waarop hy gestaan het, geglip het. Die heining het sy regterarm oopskeur en onder meer ’n aar stukkend sny.

Gelukkig was sy yster van ’n vrou, die eNuus-aanbieder Daniëlla van Heerden, ook tuis. Dit was juis haar blitsvinnige optrede wat hom betyds by die hospitaal besorg het.  

Nou, nadat Cornél uiteindelik by die huis aansterk nadat hy die afgelope week drie operasies in die Life Flora-kliniek moes ondergaan om sy regterarm en -hand te red, het hy besluit om ’n roerende brief aan sy toekomstige seun te skryf en op Facebook te deel.   

“Beste toekomstige seun,” begin hy die brief.

“Dit is hoekom jy met ’n sterk vrou moet trou. ’n Sterk vrou soos jou ma.

“Jou ma is een van die groot redes hoekom ek nog vandag hier is om met jou te kan redeneer.”

Cornél verduidelik in diepte hoe hy die huis veiliger vir hom en sy vrou nadat hul huiswerker, Liesbet, in hul huis aangeval is. Hy wou die huis se sekuriteit opgradeer, wat onder meer die installering van die vurktandheining sou wees. Sy pa, "iemand met 'n hart van goud," het hom gehelp.

Toe loop alle skeef. Hy beskryf dit as millisekondes . . .

“Baie wonderwerke later, drie lang operasies, ’n sny van sowat 20 cm in my regter arm, baie ure se fisio wat voorlê op die pad na 'normaliteit' wil ek het jy moet weet jou pa is 'n nederige en dankbare mens."

Cornél het grappenderwys aan Huisgenoot gesê dit is eintlik jammer hy het nie ’n robotarm gekry nie.

“Dit sou nogals cool wees,” lag hy.

“Ek is baie dankbaar ek het nog my arm. Ek gaan more die plastiese chirurg sien, en daar lê nog ’n lang pad van fisio voor.”