“Anna kerm al jare sy wil trou, maar Enrique het vasgeskop en openlik gesê hy wil nie,” vertel ’n bron. “Maar hulle trou beslis volgende week en het sterre soos Nicole Scherzinger, Lewis Hamilton, Jennifer Lopez, Eva Longoria and David en Victoria Beckham genooi."

Die paartjie is al sowat 12 jaar saam en daar is al ’n paar keer gegis dat hulle in die geheim afgehaak het. Maar ’n bron sê die sanger agter die treffer Hero, wat môre (8 Mei) 38 word en die 31-jarige afgetrede tennisster het nog altyd beplan om ’n “spogtroue” te hou.

Die bron het aan die koerant The Sun gesê: “Hulle sou dit nie in die geheim gedoen het nie, want hulle wil uithang.”

“Dit gaan ’n groot troue met hul beroemde pelle wees. Hulle gaan behoorlik uithang met ’n groot seremonie en ’n oordadige onthaal.”

Enrique, die seun van die legendariese minnesanger Julio Iglesias, het al gesê hy glo nie dis belangrik om te trou nie.

“Ek het nog nooit geglo trou sal ’n verskil maak nie. Dalk is dit omdat my ouers geskei het, maar ek dink nie jy kan iemand liewer hê net oor ’n stuk papier nie. En dis nie deesdae taboe om kinders te hê as jy ongetroud is nie. Die belangrikste is om ’n goeie ouer te wees.”