Die sanger agter die treffer Hero se vingers is oopgesny toe hy Saterdag ’n hommeltuig tydens sy konsert in Tijuana, Mexiko gegryp het. Sy woordvoerder het Maandag bevestig die 40-jarige sanger ontvang mediese behandeling vir sy beserings. “Dankie vir julle belangstelling en goeie wense. Enrique ondergaan vandag rekonstruktiewe chirurgie,” het die verklaring volgens The Associated Press gelui. “Enrique sal sy toer op 3 Julie in Mexikostad voortsit. Ons waarder al julle goeie wense en gebede.” Enrique is op die aand van die konsert langs die verhoog ook behandel en het nog vir 30 minute voortgegaan om sy treffers as deel van sy Love and Sex-wêreldtoer vir aanhangers te sing voor hy aangeraai is om die konsert te beëindig. Aanhangers het foto’s van die sanger met bloed oor sy wit T-hemp en ’n toegedraaide hand op sosiale media gedeel. Enrique is ná die konsert na Los Angeles gehaas om ’n spesialis te gaan sien.

Ná 20 jaar in die bedryf is hy nog mal oor toer en geniet dit nog om regoor die wêreld te reis en vir sy aanhangers op te tree. Die ster het verlede jaar aan Billboard gesê hy is dankbaar vir die geleenthede wat hy gekry het aangesien hy as jong seun nie geweet het of sy musiekdrome sou waar word nie.

“Ek het nooit regtig my musiek met enigeen gedeel nie. Ek het gevoel dit sou nie gebeur nie en dat daar te veel mense met opinies sou wees,” het hy gesê.

“Daar is mense wat sê: ‘Dink jy jou sou musiek gemaak het as jou pa (Julio Iglesias) nie ’n sanger was nie?’ Waarskynlik nie.”

© Cover Media