’n Bulterriër het sy vierjarige seun, Eli, in die gesig gebyt, ’n voorval waaroor die hof nou moet beslis.

[caption id="attachment_144827" align="aligncenter" width="600"]Eli Barnard (7), hier by sy pa, Marius, se wonde is dalk genees, maar hy is steeds getraumatiseer ná die aanval twee jaar gelede. Eli Barnard (7), hier by sy pa, Marius, se wonde is dalk genees, maar hy is steeds getraumatiseer ná die aanval twee jaar gelede.[/caption]

As die hof bevind dat die hond se eienaar, Nico Ras (43), vir die voorval aanspreeklik is, sal hy moontlik R322 000 vir onder meer Eli (nou 7) se mediese koste en trauma- en sielkundige behandeling tot op hede moet opdok, asook moontlike toekomstige mediese uitgawes, soos plastiese chirurgie.

Louw Erasmus, Nico se prokureur, het aan Huisgenoot gesê die vraag waaroor die hof moet beslis, is eenvoudig: Het die vierjarige seuntjie die hond met ’n hoenderboudjie geterg en so aanleiding daartoe gegee dat die hond hom byt, soos hulle aanvoer, of nie?

Drie dae is verlede week opsygesit vir die partye se onderskeie regspanne om getuienis op rekord te plaas en hul argumente aan die hooggeregshof in Pretoria voor te lê. Regter Johan Louw het uitspraak voorbehou, wat beteken dit kan selfs ’n paar maande duur voor hy sy uitspraak lewer.

Marius vertel hy het destyds gewoon in ’n huis op ’n hoewe in Montana, Pretoria. Hy en sy kind, wie se ma oorlede is toe hy een jaar oud was, het die huis by Nico gehuur. Hulle het aan die een kant van die massiewe huis, wat in twee verdeel is, gewoon en Nico aan die ander kant.

Marius beweer Nico was byna nooit by die huis nie omdat hy meestal by sy vriendin oorgebly het, en sy twee bulterriërs is in ’n groot hok op die werf aangehou. Hy beweer Marius het net ’n keer of wat per week by die huis aangedoen om die honde te voer.

eli hek

Klein Eli en sy oppasser, Johanna Baloyi, het op 16 Mei 2014 buite op hul stoep hoender vir middagete sit en eet, en Marius, wat weens ’n spiersiekte ’n rolstoel gebruik, binne in die sitkamer.

“Johanna was soos ’n ma vir Eli ná sy ma se dood. Sy het altyd toegesien dat hy sy kos eet. Hy was besig om te eet toe die hond . . . uit die niet verskyn.”

Die verdediging steun op Johanna se mededelings net ná die voorval dat Eli die hond met die hoenderboudjie geterg het en na bewering so aanleiding gegee het dat die hond hom in die gesig gebyt het.

Marius sê dit is “absurd” dat sy kind die hond “geterg” het.

“My kind het niks met die honde uit te waai gehad nie. Hy het rustig sit en eet.”

Marius-hulle voer aan Nico het geweet sy honde is gevaarlik. Met ’n vorige episode het een van die honde uit hul afskorting ontsnap en Johanna aan die hakskeen gebyt “dat sy bloei”. Nico beweer dat hy nooit van hierdie voorval in kennis gestel is nie.

Johanna het, toe die hond Eli op die betrokke dag aanval, daarin geslaag om die hond van die seun af te trek.

Marius het intussen met sy rolstoel by die huis uitgekom, dadelik sy kind gevat en hospitaal toe gery. Hy kan nog loop, maar dit is pynlik en hy kan vinniger en meer onafhanklik in die rolstoel oor die weg kom. Hy het Nico van daar gebel en oor die voorval ingelig aangesien hy nie by die betrokke huis teenwoordig was nie.

“Kyk, ek verkwalik nie die hond nie. Hy was waarskynlik honger; dit was die dier se instink. Hulle is nie mense en kinders gewoond nie. Ek blameer die eienaar omdat hy beter voorsorgmaatreëls moes getref het en geweet het sy honde hou ’n bedreiging in,” sê Marius.

Eli moes dringend in die Montana-hospitaal gestabiliseer word en aangesien daar nie ’n chirurg beskikbaar was om op Eli se “diep wonde” aan sy lippe, neus en wange te opereer nie, is hy oorgeplaas na die Eugène Marais-hospitaal, waar ’n chirurg na Eli se wonde omgesien het.

[caption id="attachment_144828" align="aligncenter" width="600"]Eli kort na die voorval. Eli kort na die voorval.[/caption]

[caption id="attachment_144829" align="aligncenter" width="600"]Eli kort na die voorval. Eli kort na die voorval.[/caption]

[caption id="attachment_144831" align="aligncenter" width="600"]Eli kort na die voorval. Eli kort na die voorval.[/caption]

“Ek het hom al by sielkundiges en arbeidsterapeute gehad tot twee maande gelede, maar daar lê nog ’n lang pad voor. Hy sal later nog plastiese chirurgie moet kry en as hy weens alles die jaar teruggehou word in die skool, sal dit later in sy lewe ’n verlies aan inkomste beteken.”

Die pa vertel weens die merke aan sy kind se gesig wil nuuskierige maatjies gedurig weet wat het gebeur; hy word dus daagliks aan die trauma herinner.

Louw Erasmus het by navraag gesê dit wat gebeur het was ’n “droewige jammerte”.

“My kliënt het dadelik uit goeie wil aangebied om die mediese onkoste te dek; dit is nie dat hy ongevoelig gestaan het teenoor wat gebeur het, maar dit was nie genoeg nie,” vertel Louw oor die saak wat nou ná twee jaar in die hooggeregshof draai.

Hy sê dit is onsin dat Nico nooit by die huis was of dat sy honde honger was nie.

“Ons het in die hof sy voertuig se bewegings voorgelê soos dit met die opsporingstelsel vasgevang is. Hy was bykans elke dag daar en sommige dae meer as een keer.”

Louw sê verder hulle steun sterk op die oppasser se mededeling aan Nico dat die kind die hoenderboudjie voor die hond geswaai het, “al ontken sy dit nou”.

“Eli het gereeld met die honde gespeel. Hulle was nie gevaarlik nie, maar vredeliewende diere wat ook met my kliënt se kinders (wat nou by hul ma woon) gespeel het toe hulle nog saam in die betrokke huis gewoon het. Wat gebeur het, is niks minder as net ’n frats nie,” sê Louw.