Dis onrealisties om van ’n enkelouer te verwag om vir altyd enkellopend te bly. Of dit nou ná ’n egskeiding of die dood van ’n geliefde is, het die meeste mense die een of ander tyd ’n behoefte aan ’n volwasse verhouding en soek iemand wat hulle kan liefhê en na hulle kan omsien. Maar hoe stel jy ’n nuwe lewensmaat aan jou kinders voor sonder om hulle te ontstel, en wanneer is dit die beste tyd om dit te doen?

“Die tydsberekening van ’n nuwe maat aan jou kind voorstel is nie ’n presiese wetenskap nie,” sê Stephanie Dark, ’n geregistreerde sielkundige berader van Panorama, Kaapstad. Maar dit beteken nie dis onmoontlik nie, sê sy. As dit reg hanteer word, kan dit die verskil beteken tussen ’n problematiese verhouding en alles wat glad verloop.

Stephanie stel voor dat jy jou kind en lewensmaat op die ontmoeting voorberei. “Begin deur met jou kind oor die persoon as ’n nuwe vriend te praat. Probeer iets vind wat jou kind die nuwe persoon kan vertel wat hulle albei sal geniet, maar hou dit eenvoudig en lig, soos wat ’n vriendskap sou wees.”

Wat jou maat betref, onthou dat hulle dalk ook bekommernisse het. “Hulle is dalk senuagtig, veral as hulle self nie kinders het nie; help hulle dus met onderwerpe waarin jou kind belangstel om oor te gesels. Veruidelik wat die algemene reëls oor jou kind se gedrag is en dat hulle nie jou kind moet berispe vir enige gedrag wat hulle voel is verkeerd nie; dit is jou werk as ouer,” sê Stephanie.

“Vind ’n neutrale plek vir die eerste ontmoeting en beëindig die ontmoeting en bespreek die gevoelens tuis as jou kind baie ontsteld of ongemaklik raak.”

Onthou die volgende wanneer jy hulle voorstel: “Dis belangrik om jouself te wees. Jou kind gaan dit opmerk as jy te hard probeer of ’n anderste of senuagtige houding aanneem. Dit sal vir hulle erg verwarrend wees. Ontspan en wees jouself. Wees geduldig en gee hulle tyd om ’n band te vorm as dit nie dadelik gebeur nie.”

Stephanie sê dis beter om fisieke kontak, soos soen en hande vashou, aan die begin te vermy, veral tydens die eerste ontmoeting; dit kan lei tot jaloesie of wrewel by die kind. Hou die gesprek lighartig. “Probeer meestal oor die kind praat, of oor onderwerpe wat met die kind verband hou. Benadruk jou kind se positiewe kenmerke en laat jou maat dit beaam.”

Wat as hulle nie oor die weg kom nie?

“Luister na jou kind. Met ’n nuwe lewensmaat sal daar altyd struikelblokke wees om te oorkom; wees dus bewus van jou kind se behoeftes en gee hulle ruimte om hul bekommernisse en opinies oor die nuwe persoon te deel. Dis jou verantwoordelikheid as ouer om te verseker daar is ’n veilige ruimte vir jou kind om met jou te gesels, sonder oordeel of wrewel van jou kant af.”

Maak seker jy gee aandag aan jou kind se gevoelens. Onthou, jou eerste verantwoordelikheid is teenoor die kind, wat van jou afhanklik is vir emosionele sekerheid, nie jou nuwe maat nie – selfs al voel hulle onseker.

“Moenie dit aan jou kind oorlaat om na jou toe te kom nie; praat gereeld met hulle oor hul gevoelens. Jy en jou maat is die volwassenes; die druk moenie op die kind wees om ’n band met die nuwe maat te vorm nie.”

Oorweeg dit

Stephanie sê jy moet die volgende oorweeg voor jy weer op afsprake gaan of ’n stap verder gaan in die verhouding deur die persoon aan jou kinders voor te stel:

  • Is jy gereed vir die moontlikheid van ’n nuwe verhouding? Om van jou vorige lewensmaat geskei te wees, om watter rede ook al, is altyd traumaties. Maak dus seker jy het die ergste verwante emosies verwerk voor jy weer iemand in jou lewe toelaat.
  • Hoe gaan dit op die oomblik met jou kind? Is jou kind se gemoedstoestand stabiel en kom julle goed oor die weg? “Een van die belangrikste aspekte is om te verseker dat die band tussen ouer en kind sterk genoeg is om ’n nuwe persoon toe te laat,” sê Stephanie.
  • Kan jy jou ’n stabiele en gelukkige toekoms saam met hierdie persoon voorstel? Maak seker hiervan voor jy hulle aan mekaar voorstel. “Jy wil nie hê jou kind moet geheg raak aan ’n nuwe persoon wat nie ’n bestendige deel van hul lewe gaan wees nie.”

- Dalena Theron