DIE rietskraal man kom die restaurant binnegeskuifel met ’n sak foto’s in die een hand en ’n ekstra broek oor ’n hanger in die ander.

Gavin van den Berg lyk nog net vaagweg soos die Jacques Rynhard wat ons in die 80’s op die kassie leer ken het in Ballade vir ’n Enkeling, wat nou heruitgesaai word.

Toe was hy ’n hartebreker van 36; nou op 55 het sy plankdun lyf mense aan die wonder. Wanneer hy jou met ’n drukkie groet, kan jy eintlik sy skouerknoppe voel. Ja, hy weet die mense skinder omdat hy so maer is.

Die bekende akteur Ryno Hattingh, wat almal as die hartebreker in die TV-reeks Sterretjie in die 70’s onthou, het hom nou die dag gebel en reguit gevra: “Wat gaan aan, Gavin? Die mense sê jy’t vigs?”

“Nee, ek het nie vigs, kanker of watter ander siekte ook al nie. Ek’s gesond!” lag hy later terwyl hy op sy maag lê en ’n skilpad in die pragtige park om die restaurant in Pretoria sommer op sy kop soen.

Hy vertel hy moes gewig verloor vir ’n verhoogrol en hy het dit net nie weer aangesit nie.

Dit was vir die rol van Vaslav Nijinsky, die legendariese balletdanser op wie die stuk Nijinsky’s Last Dance gegrond is. Hy het op nege by die Russiese balletgeselskap aangesluit, wêreldberoemd geraak en eindelik in ’n gestig beland.

Gavin is nou weer op pad verhoog toe. Hy gaan in die toneelstuk Bye Ma, Jaypee by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees speel. Dit is gegrond op die ware verhaal van Jaypee Malherbe (64), ’n haarkapper van Kaapstad wat veral bruide op hul groot dag mooi maak.

Elke jaar sedert sy ma se dood in 2002 het hy op haar verjaardag ’n brief aan ’n dagblad gestuur as huldeblyk aan haar. Dit het al so gewild geword dat mense van so ver as Madeira en Australië daarop reageer.

Gavin raak so opgewonde toe hy daarvan vertel dat hy sommer sy kortbroek daar in die restaurant uittrek en in die langbroek spring wat hy saamgebring het.

“Ag nee wat, ek’s nie skaam nie,” skud hy sy kop oor ’n voorstel dat hy in die badkamer gaan verklee.

Maar toe ons fotograaf foto’s van hom wil neem terwyl hy gesels, protesteer hy heftig. “Nee, nee, nee, nee! Nie terwyl ek praat nie, asseblief, laat ek eerder poseer – ek háát die praatfoto’s!

Die volledige onderhoud verskyn in Huisgenoot, 17 Februarie 2011.