Nou is hy ook die wenner van kykNET se kookprogram Kokkedoortjie.

Edwin Theron (13) van Worcester het Woensdagaand koning gekraai nadat hy ’n driegangmaaltyd berei het wat enigiemand se mond sou laat water.

“Ek kan steeds nie glo ek het gewen nie,” sê hy.

Edwin, sy ma Marietjie en Christi tydens die finaal van Kokkedoortjie.

In die laaste episode het Edwin teen Christi Myburgh (14) van Bloemfontein meegeding. “Christi is ongelooflik goed in die kombuis en het baie koskennis.”

Hulle moes ’n driegang-ete berei vir die beoordelaars, Mari-Louis Guy en Nic van Wyk.

Met avokado ritz as voor-, cordon bleu as hoof- en sjokoladepoeding met kersies as nagereg het Edwin die wenspyskaart gehad.

Die donkerkopseun het destyds "sommer vir die lekker" ingeskryf en nooit gedink hy gaan wen nie.

“Kokkedoortjie het my lewe verander. Ek is nou trots daarop om die wêreld te wys ek hou van kook,” sê hy.

Edwin Theron is die wenner van Kokkedoortjie.

Edwin vertrek die naweek saam met sy ma, Marietjie, ’n pediater, en sy suster, Martli, op ’n Mediterreense bootreis. Dié vakansie is een van die pryse wat hy gewen het.

As Kokkedoortjie jou kind lus gemaak het om die kombuis in te vaar, kan hy of sy inskryf vir Koekedoortjie, die opvolgreeks met ’n baktema.

kykNET soek tans deelnemers tussen nege en 13 jaar oud. Inskrywings sluit op 25 Augustus 2017. Besoek kyknet.tv vir nog inligting of stuur ’n e-pos na koekedoortjie@homebrewfilms.tv.