DIE 26-jarige pa lyk volkome gebroke waar hy in sy ma se woonkamer sit.

Sy arms hang slap langs sy sye en hy staar met dik gehuilde oë na die vloer terwyl hy in ’n skaars hoorbare fluisterstem praat.

Kort-kort bars hy in trane uit.

Rudy Lohmann van Brakpan is pas ontslaan ná amper drie dae in die waaksaal van ’n plaaslike kliniek, waar dokters sy hartklop onder beheer probeer kry het. Die skok toe die polisie hom vertel sy eie skoonsuster het sy sesjarige dogter vermoor, was eenvoudig te veel.

“Ek kan steeds nie daaraan dink nie. Ek kan niks voel nie.

Nicole was die beste kind wat ’n pa kon vra,” sê Rudy en stry weer teen die trane. “Sy was nooit stout nie. Sy was altyd so oulik, altyd kalm, altyd bereid om te deel . . .”

Hy begin onbedaarlik huil. Sy vrou, Yolandi (25), skuif nader om hom te troos. “Hy kan nie slaap nie, hy eet nie, hy praat nie meer nie,” sê sy. “Nicole was sy lewe. Nou is sy weg.”

Die moord en selfmoord is die uiteinde van ’n moeilike aantal jare in die familie. Linda, Rudy se eerste vrou en Nicole se ma, is vier jaar gelede aan septisemie dood en Rudy moes daarna self sy dogter versorg.

Hulle het toe by Linda se suster René Pretorius gaan woon.

In die begin het alles goed gegaan, maar ’n reeks tragiese terugslae het René genadeloos geteister, en toe sy boonop gesondheidsprobleme ervaar en ál meer op pille begin staatmaak, het dinge tussen haar en Rudy versuur.

Toe hy en Nicole noodgedwonge by René uittrek, het ’n onsmaaklike toutrekkery met ’n toenemend obsessiewe René oor die dogtertjie ontstaan. Die uiteinde was ’n haas ondenkbare tragedie . . .

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 25 November 2010