Ontmoet Snakey, die hoedbehepte luislang . . . Ja, as ’n mens sy baas, Emma Lacey (24) van Kalifornië, kan glo, gaan hy bos oor hooftooisels van alle soorte.

Op sy Facebook-blad – met nou reeds sowat 60 000 aanhangers – sien ’n mens hom met alles van ’n sombrero en heksehoed tot ’n Kersvader-mus, elf- en kabouterhoedjies, haasore en ’n eenhoring- en hoenderkop-hoed op sy kop.

Hy is as’t ware die Imelda Marcos van hooftooisels . . .

Daarby het hy ’n truitjie om hom “teen die koue te beskerm”. Tog te oulik, meen sy baas en aanhangers. Maar het hulle die stomme snaar gevra wat hý daarvan dink?

Onder sy “persoonlike belangstellings” word juis “om te probeer ontsnap” gelys, benewens eet, slaap en nogmaals slaap.

Sy eienaar sê darem dis nie raadsaam om slange te laat hoed dra nie, tensy hulle gewoond daaraan is dat mense hulle hanteer. Sy het die vierjarige al vandat dié enkele weke oud was en hy is glo hondmak.

Bronne: Facebook, YouTube