Na ’n soektog van elf weke is die sesde wenner in Kwêla se Dorp van die Jaarkompetisie, aangewys. Vanjaar was dit een van ons gewildste bure wat die regte aas aan die hoek gehad het.

In Woensdagaand, 25 Mei, se episode van kykNET se gewilde joernaalprogram, Kwêla, is Hentiesbaai as die wendorp gekroon. Dit is ook die eerste een vir Namibië.

henties welkom

Kyk: Hier is die nege finaliste in vanjaar se kompetisie.

Dié titel word toegeken aan die dorp wat die meeste SMS-stemme gekry het in die laaste stemweek van die kompetisie.

“Dink jy aan Hentiesbaai kom Carike Keuzenkamp se trefferliedjie, Sarah de Jager, dadelik op. Nou lewer Hentiesbaai nog ’n treffer deur die eerste Nambiër te wees wat aangewys word as Kwêla se Dorp van die Jaar,” sê Karen Meiring, Direkteur van Afrikaanse Kanale by M-Net.

henties see toe

“kykNET is regtig opgewonde oor Hentiesbaai se nuwe status en dié kusdorp se naam word nou by ’n gesogte lysie van wenners ingesluit. Baie dankie ook aan al ons kykers wat hul dorpe vanjaar getrou ondersteun het!”

Die ander twee dorpe in die topdrie was Potchefstroom en Paul Roux.

“Kwêla se Dorp van die Jaar is ’n ongelooflike uitstalvenster vir Suid-Afrika en Namibië se pragtige dorpe,” sê Karen.

“Nie net bring dit dorpe bymekaar en bou gees onder die inwoners nie, maar kry ook ’n sterk finansiële inspuiting met toerisme wat beslis nou sal toeneem, nie net na die wendorp, maar ook die agt ander finalisdorpe."

henties lug

Vorige jare se wenners was Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg.

Nie net kan Hentiesbaai nou met ’n gesogte titel spog nie, maar Kwêla se produksiespan skiet ’n advertensie van 30 sekondes vir dié dorp. Dit sal boonop ook gebruik word in die R1 000 000- lugtyd wat Hentiesbaai kry om die dorp te bemark. Boonop kan die inwoners van Hentiesbaai uitsien na’n reuse wenmakietie om die titel te vier.

Die borge wat vanjaar se kompetisie moontlik gemaak het, is Afgri, Indwe Risk Services en Action Ford.

Kwêla word Woensdae, 20:00, op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.