[caption id="attachment_131067" align="alignnone" width="600"]Corli en Wessels eindig die reeks op 'n hoë noot. Foto: Ian du Toit Corli en Wessels eindig die reeks op 'n hoë noot. Foto: Ian du Toit[/caption]

In Donderdagaand se slotaflewering het sy en die kompetisie se enigste haan onder die henne, Wessels van Vuuren, teen mekaar te staan gekom.

Dit was egter Corli se troukoek waarvoor die beoordelaars die jawoord gegee het.

Mari-Louis Guy, Tiaan Langenegger en Elizabeth Cloete het beslis Corli se “mooi-van-buite”, netjies afgewerkte troukoek met die keurige en delikate versiering het die ietwat rustieke, “mooi-van-binne”-koek van Wessels getroef.

[caption id="attachment_131068" align="alignnone" width="600"]In die wolke! Corli en die beoordelaars is ewe in hul noppies haar oorwinning. Foto: Ian du Toit In die wolke! Corli en die beoordelaars is ewe in hul noppies haar oorwinning. Foto: Ian du Toit [/caption]

“Corli het haarself deur en deur bewys as die survivor van die bakwêreld om ná 35 uitdagings in 13 episodes steeds met soveel grasie staande te bly,” het Mari-Louis gesê.

Elizabeth beaam dit.

“Hoewel Wessels se eerste troukoek lekker gesmaak het en die stempel van sy andersdenkendheid dra, het Corli se smaakkombinasies, versieringsvaardighede en afronding van haar gebak die deurslag gegee.”

Corli, ’n kranige entrepreneursbakker, glo as jy met liefde bak, ’n mens dit in die gebak kan proe. Sy kry haar passie vir bak van haar ouma Corrie.

“Bak het my nog altyd laat goed voel. Dit gee uiting aan emosie, dit stimuleer die sintuie, dis kreatief en natuurlik is dit ’n plesier om iemand met my gebak te bederf.” Haar droomonderneming, Corli’s Kitchen, is nou ook ’n werklikheid.

[caption id="attachment_131069" align="alignnone" width="729"]Corli en haar rugbylegende man, Gary Botha, is in die sewende hemel. Foto: Ian du Toit Corli en haar rugbylegende man, Gary Botha, is in die sewende hemel. Foto: Ian du Toit[/caption]

Wessels, wie se kalmte deurgaans beïndruk het, pas sy gebak tussen sy werk as klerk by die balju in Simonstad in. Hy het ook ’n passie vir tuine. Sy droom is om eendag ’n koffiekroeg by ’n kwekery te bedryf.

“Ek bak want dis die vinnigste manier om myself kreatief uit te leef; ’n tuin vat soveel langer. Met bak kan ek in 15 minute iets lekkers en mooi op die tafel hê. Ek bak ook omdat die kragtigste deel van ’n mens se herinnerings in jou smaak en reuksintuie sit. Ek bak om mense waarvoor ek lief is deur hul resepte vir altyd te laat leef.”

Corli het nie net die titel as Suid-Afrika se beste amateurbakker gewen nie, maar ook die grootste prysgeld tot nog toe in ’n Suid-Afrikaanse bakkompetisie. Sy ry huis toe met die nuwe Suzuki Ciaz-sedanmotor, R200 000 in kontant, ’n Rolkem/Capsicum-suikerkunskursus ter waarde van R50 000 en ’n Human & Rousseau-kookboekkontrak. Haar kook- en bakboek, Corli se Kombuis, verskyn op 16 Augustus.

Wessels kry gelukkig ook ’n snytjie van die koek: ’n Bedrag van R50 000 in kontant van Safari Dried Fruit en ’n suikerkursus ter waarde van R35 000.

Albei het hulle al in die reeks se openingsepisodes onderskei toe hulle as episodewenners aangewys is en met Kenwood-toerusting weggestap het.