’n Driejarige seuntjie is Woensdag met sy familie in Suid-Afrika herenig nadat hy drie jaar in ’n Mosambiekse tronk saam met sy ma was.

Sy Suid-Afrikaanse ma is in 2013 tronkstraf vir dwelmhandel opgelê.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling sê die seuntjie het sedert sy ma tronk toe is by haar gebly. Hy is tydens haar aanhouding gebore. Sy dien 12 jaar tronkstraf uit.

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, het die seuntjie by die OR Tambo internasionale lughawe, saam met die seun se pleegouers, ontmoet.

“Die seun is aan ’n Suid-Afrikaanse ma in ’n Mosambiekse tronk gebore en is nie gewoond aan die lewe buite die tronk nie, en sal dus goeie sorg benodig,” sê Conny Nxumalo, adjunkdirekteurgeneraal van welsyndienste vir die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling.

Die ma het versoek dat die seuntjie, wat nie geïdentifiseer mag word nie, in die sorg van haar uitgebreide familie in die Vrystaat geplaas word. Ingevolg die Mosambiekse wet mag kinders nie by hul ma’s in die tronk bly nie.

Die kind se oupa het in ’n video wat die departement op hul Facebookblad gedeel het gesê hy is bly die kind kan eindelik ’n normale lewe lei.

“Ek is so trots. Dit voel soos ’n droom,” het hy gesê en vertel hulle het hard probeer om die kind terug by die huis te kry. “Ek voel sy ma sal weet en verstaan haar kind is nou in veilige hande.”

Ingevolge die Suid-Afrikaanse Kinderwet 38 van 2005 moet die land kinders repatrieer wat in die buiteland in die nood verkeer.

Conny sê 18 kinders is tussen 2005 en 2015 na die land gerepatrieer.

Bron: News24

Ook op Huisgenoot.com:

Doodsreuk hang in hospitaal nadat erg ontbinde lyk glo in hysbakskag gevind is

Hofmeyr-boeties se liefdeslewe beleef uiterstes

Sexy Ryk en sy beeldskone Sahar baljaar tussen die branders van die Maldives

Banters let op! Algemene wanopvattings oor eetplanne met min koolhidrate

Valk tref motor en oorleef wonderbaarlik ’n hele naweek vasgekeer in sierrooster