Die gewilde sanger en TV-persoonlikheid Emo Adams se vrou, Michelle, het Vrydag ’n nare ondervinding gehad toe sy by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg onder ’n portier se skerp tong deurloop – en dit omdat die model, wat Donderdag aangekondig het sy verwag hul tweede kind, ’n hysbak wou gebruik.

A photo posted by emo adams (@emo_adams) on

“Toe ek vanoggend by die OR Tambo Internasionale Lughawe kom, het ek nie gedink ’n portier sal onbeskof wees met my nie,” het sy op die sosiale netwerk Facebook gesê.

fb foto michelle crop

“Ek is swanger en was nie gemaklik daarmee om my trollie op die roltrap te gebruik nie. Ek het toe in die ry gewag om die hysbak te gebruik. Terwyl ek in die tou was, het ’n portier van Acsa (die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika) of OR Tambo Internasionale Lughawe aangekom en voor in die tou gespring met sy klomp bagasie.

Lees ook: SA aktrise op OR Tambo-lughawe met dwelms gevang

“Toe ek hom daaroor konfronteer, het hy gesê die hysbak is vir groter trollies en dat ek my klein trollie op die roltrap moet vat. Sy hele houding was konfronterend en nie ’n manier hoe jy met ’n vrou, laat staan nog ’n kliënt, praat nie.”

Volgens Michelle se inskrywing is daar geen bord wat aandui sy mag nie die hysbak gebruik nie.

“Aangesien dit ’n dienspunt vir internasionale kliënte is, hoop ek nie toeriste word ook so behandel nie.”

Michelle het by navraag gesê sy het nie die portier se naam gekry nie. “Toe ons in die hysbak was, het hy verder gemompel,” vertel sy vir ons.

Lees ook: Borsvoedende ma spoel mond uit oor rillerevaring op plaaslike vlug

“Hy het duidelik nie alles gesê wat hy wou terwyl hy daar gestaan het nie. Dit voel so onnodig, want ek is seker ek kan enige vervoer gebruik wat ek wil tot op die volgende vloer. Ek het al baie en wêreldwyd gereis en selfs by die swakste lughawens ervaar jy nie die vlak van swak diens en algemene swak houding soos in Suid-Afrika en veral by OR Tambo nie,” voeg sy by.

Die OR Tambo Internasionale Lughawe het intussen op Facebook op Michelle se inskrywing reageer. “Ons is jammer om te hoor van jou ervaring by ons lughawe,” het hulle laat hoor.

fb foto emo or tambo crop

Hulle het haar gevra om al die inligting vir haar te e-pos vir verdere ondersoek.

In geskrewe kommentaar van Lughawensmaatskappy Suid-Afrika het hulle die aanmelding van die voorval bevestig. “Die voorval sal onder soek word en ons sal regstreeks met Me. Gildenhuys skakel om te verseker die kwessie word opgelos,” het liggaam aan Huisgenoot oorgedra.

“Ons vra om verskoning vir die ongerief wat aan Me. Gildenhuys veroorsaak is.”