Emo Adams se aanhangers leer ’n ander sy van hom ken by vanjaar se Absa KKNK op Oudtshoorn.

Die geliefde grapjas en sanger vertel die storie van sy grootwordjare op die Kaapse Vlakte in sy debuutproduksie, Finding Emo.

Die staaltjies begin by die hospitaal waar hy gebore is en handel onder meer oor sy kleuterskooljuffrou, wat Emo se talent op tweejarige ouderdom by hom raakgesien het, tot die groot oomblik toe hy een oggend Nkosi Sikelel’ iAfrika moes sing toe wyle pres. Nelson Mandela sy skool besoek.

“Dit is die eerste keer dat ek myself in ’n vertoning speel. Dit is nogal scary, want jy wys vir die mense presies wie jy is, en jy weet nie of hulle daarvan gaan hou nie.”

In die vertoning vind jy uit dat Emo behalwe Luqmaan nog ’n broer, Junaid, het, dat hy al deur ’n bendelid gesteek is wat sy leerbaadjie wou steel en dat sy ouma hom vir die eerste paar jaar van sy lewe grootgemaak het.

Die hele vertoning word met behulp van foto’s en videogrepe vertel. “Met die hele Oscar-saak en ander sake soos die Waterkloof-twee en Nkandla het ek besef hoe belangrik bewyse is. Toe besluit ek om bewyse te bring oor wie ek is en waar ek vandaan kom,” sê Emo.

Sy meisie, Michelle Gildenhuys, kuier vanjaar saam met hom by die fees en help hom en sy span waar sy kan. “Ek het fees toe gekom om so ’n bietjie vir Emo te sorg en seker te maak hy eet gesond. Hulle kan nie elke aand net KFC eet nie,” het sy laggend gesê.

Finding Emo is tot Saterdag by die KKNK te sien.

[post-slider]