’n Huldeblyk aan Cory Monteith word vir die 2013 Primetime Emmy-prysuitdeling beplan.

Die 31-jarige Glee-akteur is in Julie aan ’n oordosis heroïen en alkohol oorlede en vervaardigers is besig om te besluit hoe hulle op die beste manier hulde aan hom kan bring by die geleentheid, wat op 22 September in die Nokia-teater in Los Angeles gehou word.

Die uitvoerende vervaardiger, Ken Ehrlich, het aan Deadline gesê: “Iets wat hulde bring (word beplan, maar) wat dit gaan behels of hoe ons dit gaan benader . . . wel, dis te vroeg om te sê.

“As Cory in Maart gesterf het, sou ons vier maande gehad het om met ’n bietjie meer perspektief hierna te kyk. Die rede waarom ons dit nou bespreek, is omdat hy twee weke gelede oorlede is. Maar ons sal dit hanteer.”

Cory is op 13 Julie deur personeel in sy hotelkamer in die Fairview Pacific-hotel in Vancouver dood gevind nadat hy nie uitgeteken het nie. Hy het die aand vantevore saam met vriende uitgegaan en is alleen terug hotel toe.

Sy meisie en medester, Lea Michele, wat ten tye van Cory se dood saam met vriende in Mexiko was, het onlangs op Instagram hulde aan die ster gebring en aanhangers vir hul ondersteuning bedank.

Sy het geskryf: “Baie dankie aan almal wat my met jul geweldige liefde en ondersteuning deur hierdie tyd dra. Cory sal altyd in my hart wees.”