Die blondekop-meisietjie lag uitbundig toe die Kersklapper aan stukke spat. Haar pa help haar om die presentjie te soek wat nou êrens op die grasperk beland het, maar sy verloor belangstelling die oomblik toe sy die silwer papierkroon op die gras sien lê.

‘‘Mamma,’’ roep sy opgewonde, en Bertha le Roux buk gedienstig voor haar kleinding sodat die kleine juffrou die Kerskroon oor haar rooibruin hare kan trek.

Kiana (2) is dol oor Kersfees. ‘‘Sy is baie lief vir presente kry,’’ vertel die pragtige Bertha, beter bekend as Emma in die gewilde sepie 7de Laan. G’n twyfel nie, beaam pa Karel Wahl, met wie Bertha nou sewe jaar getroud is.

‘‘Sy wil gedurig net ’n geskenkie hê,’’ vertel Karel, bestuurder van ’n sagtewaremaatskappy. ‘’nou die dag toe Bertha van die winkels af kom, was dit weer sulke tyd, en toe Bertha sommer ’n blikkie tuna uit haar drasak vir haar gee, was sy in die wolke!’’

Kiana sal maar geduldig die slapies moet aftel om te sien wat Kersvader vanjaar onder die Kersboom en in haar Kerskous vir haar gaan los, maar soos gewoonlik sal die groot dae behoorlik in die Le Roux- en die Wahl-familie gevier word.

‘‘Kersfees is vir ons ’n baie spesiale tyd. Dis familietyd wanneer ons die geskenk wat God vir ons gegee het, vier deur simboliese presente aan mekaar te gee,’’ verduidelik Bertha. ‘‘So gee ons liefde vir mekaar.’’

Die versierings in Bertha se huis in Constantiakloof in Johannesburg laat by niemand enige twyfel nie: Dis Kersfees!

’n Tafel in die tuin is feestelik in rooi en wit gedek vir die vroeë Kersmaal wat Huisgenoot vandag by hulle nuttig. Heerlike geure sweef deur die kombuisvensters waar die ete berei word en Karel sit fluks handjie by om die deeg vir die roly-poly te meng.

‘‘Ag, dis maklik. Ek en my vrou is ewe veel in die kombuis. Ek geniet kosmaak,’’ vertel hy.

Bertha glimlag oor haar man se handigheid. ‘‘Ons sal maar moet sien of hy op Kersdag ook so fluks gaan wees,’’ skerts sy.

Lees verder hoe Bertha en haar gesin Kersfees vier en sien hul Kers-spyskaart in Huisgenoot van 24 Desember.