Die rapper Eminem (40) het verklap sy verslawing aan medisyne het amper sy dood veroorsaak.

In die dokumentêr How To Make Money Selling Drugs sê hy: “Toe ek my eerste Vicodin sluk, was die gevoel ‘ahh’. Alles was kalm en ek het ook geen pyn ervaar nie.

“Ek weet nie in watter stadium dit ’n probleem geraak het nie. Ek onthou net ek het ál meer daarvan gehou. Mense het my probeer sê ek het ’n probleem. Dan het ek gesê: Kry daardie ****** mens hier uit. Ek kan nie glo hulle sê vir my sulke *** nie. Ek spuit my nie met heroïen in nie. Ek ****** snuif nie kokaïen nie. Ek rook nie crack nie. Maar Xanax, Valium, tomato, tomatoe, dis dieselfde ding.”

Eminem, wie se regte naam Marshall Mathers is, het vertel daar is sefls eenkeer met hom na die ongevallesaal gehaas. “As ek sowat twee uur later by die hospitaal aangekom het, sou ek gesterf het. My organe was besig om in te gee. My lewer, niere, alles.

“Hulle wou my op dialise plaas. Hulle het nie gedink ek gaan dit maak nie.”

Die rapper, wat al rehabilitasie vir sy verslawing moes ondergaan en selfs al sy lewe wou neem, is nou skoon, maar erken dit was ’n reuse stryd.

“Toe ek alles staak, was ek letterlik drie weke aaneen 24 uur per dag wakker,” sê hy. “Ek en bedoel ek het nie geslaap nie, nie eens vir ’n ****** minuut ingesluimer nie. Ek moes motoriese en spraakvaardighede herwin. Dis ’n leerproses. Ek groei. Ek kon nie glo iemand kon natuurlik gelukkig wees sonder om iets te gebruik nie. Ek sal vir enigiemand sê: Dit raak beter.”