N KOOR van kitaarakkoorde klink op uit die saal van die Eden-gemeente op George.

“Moeilik of maklik?” vra Elvis Blue.

“Eers maklik, asseblief,” antwoord die vyf leerlinge die koel ou wat die beoordelaar Mara Louw sommer met sy eerste oudisie vir die werklikheidsreeks Idols in trane gehad het.

Hy leer kinders uit arm gemeenskappe kitaar speel en gee sommer kitare weg waar daar passie en behoefte is. Hy is 30 jaar oud en sy regte naam is Jan Hoogendyk.

En nee, die verhoognaam is eintlik ter ere van ’n vriendjie met die naam Elvis Blaauw, ’n 11-jarige vigslyertjie wat twee jaar gelede gesterf het in die hospies waar sy vrou, Chireze, werk.

“Hy het groot drome gehad om ’n klawerbordspeler te word. Ek kon met hom identifiseer omdat ek ook in ’n stadium gedink het my droom is onbereikbaar. Maar op my ouderdom is hierdie nou my laaste kans.”

“D Minor,” kondig hy voor die klassie aan. “Kom ons gaan na die volgende stukkie toe. Moenie so kwaai lyk nie. Geniet die klanke. Go with the music.”

Ná die klas kom die 13-jarige Sherman Thomson vertel. “Dit was ’n skok om hom op Idols te sien. Ek kon nie glo dis Jan nie. Dis my popster!” Dit was ’n inspirasie, stem die meisies skamerig saam. Want hy vertel hulle nie net enigiets is moontlik as jy in jouself glo nie, hy wys hulle ook hoe.

Tien jaar al probeer hy vir hom ’n plek in die plaaslike musiekbedryf oopkap,  en hier staan hy nou op die drumpel van ’n deurbraak.

Lees meer oor Elvis Blue in die Huisgenoot van 29 Julie 2010

Op die internet:

http://mnet.dstv.com/idols/

Elvis Blue Facebook-blad