Die geliefde Elvis Blue het vanjaar ’n klomp plaaslike eerbewyse ontvang, maar hy sê hy is niks sonder sy vrou en kinders nie.

Elvis en Chirése vier op 1 Julie reeds hul 11de huweliksherdenking, maar is nog net so verlief soos altyd.

“Ek kan my nie indink hoe my lewe sonder haar sou wees nie. Dit sou ’n dorre woestyn wees,” sê hy.

Hy sê sy vrou het ook ’n groot invloed op sy loopbaan.

“As ’n mens getroud is, raak jul lewe vervleg. Op die ou einde beïnvloed julle elke aspek van mekaar se lewe.”

Die egpaar beplan om hul herdenking in Kaapstad te vier.

Maar hoe kry hy dit reg om ’n goeie eggenoot te wees, tyd te maak vir sy twee kinders en boonop so ’n suksesvolle loopbaan te hê?

Chirése, Jua en Lila woon in George en Elvis het ’n woonstel in Gauteng sodat hy ’n gemaklike blyplek het vir wanneer hy toer. Sy gesin kry darem ook die geleentheid om die land saam met hom te sien.

“Omdat ek nogal baie op die pad is, kom my gesin gereeld saam met my,” sê hy. “Wanneer dit nie gebeur nie, probeer ek tussendeur soveel moontlik tyd by die huis deurbring.”

Elvis se belangrikste raad vir pa’s wat min tuis is, is om seker te maak wanneer hulle wel daar is, moet hulle werklik teenwoordig wees en belangstel in hul gesin se lewe.

Die sanger vertel ook daar is net ’n klein verskil tussen sy beroeps- en persoonlike lewe.

“Wanneer ek nie vertonings doen nie, is ek in elk geval besig om by die huis musiek te speel,” sê hy. Hy het pas die Engelse album Optics bekendgestel en die enkelsnit The Tide het ’n asemrowende musiekvideo.

“Ek sien uit daarna om te hoor wat mense van die nuwe album dink,” sê hy.

A photo posted by Elvis Blue (@elvisbluemusic) on

Elvis is ook benoem vir Huisgenoot-Tempo-toekennings in die kategorieë kontemporêre album van die jaar, musiekvideo van die jaar en liedjie van die jaar.

STEM VIR JOU TEMPO'S-GUNSTELINGE

Hier is die benoemdes in die drie kategorieë:

Kontemporêre album van die jaar

Andriëtte – Pêrel vir ’n Kroon

Bok van Blerk – Sing Afrikaner Sing

Elvis Blue – Êrens in die Middel van Nêrens

Jannie & Corlea – Alle Paaie Lei na Rome

Karen Zoid – Republiek van Zoid Afrika Vol. 2

Koos van der Merwe – Tamboerynman

Musiekvideo van die jaar

Andriëtte – Pêrel vir ’n Kroon

Bobby van Jaarsveld – Beter Helfte

Bok van Blerk – Sing Afrikaner Sing

Brendan Peyper – Stop, Wag, Bly Nog ’n Bietjie

Elvis Blue – Die Hemel

Francois van Coke & Karen Zoid – Toe Vind Ek Jou

Karlien van Jaarsveld – Geskeurde Jeans

Kurt Darren – Ek Wens vir Jou

Leah – Met Jou Klere Aan

Nádine – Tyd

Liedjie van die jaar

Andriëtte – Pêrel vir ’n Kroon

Bobby van Jaarsveld – Middernag Serenade

Bok van Blerk – Sing Afrikaner Sing

Brendan Peyper – Stop, Wag, Bly Nog ’n Bietjie

Elvis Blue – Die Hemel

Francois van Coke & Karen Zoid – Toe Vind Ek Jou

Joe Foster – Mona Lisa

Juanita du Plessis – Lief vir Jou

Leah – Met Jou Klere Aan

Ray Dylan – Ek Sal Jou Moet Laat Gaan