Baie geluk, Elvis Blue!

Sy tweede dogtertjie, Jua Hoogendyk, is vanoggend om 07:10 in George se Mediclinic gebore. “Dit is ongelooflik. Ek is bly en senuweeagtig en opgewonde.”

Dit gaan baie goed met ma Chirése en die kleinding is ook gesond. Toe ons met ’n ekstatiese Elvis oor die foon gesels en vra hoeveel sy dogtertjie weeg, het hy gespot: “’n Mens vra nie hoeveel ’n meisie weeg nie!”

Die kleinding van 3,2 kg het pas die eerste keer haar sussie, Lila (3), ontmoet. “Dis so groot en opwindend. Sy het haar nou net vasgehou,” vertel die pa.

Hy het op sy Facebook gesê: “ Ek hoop om die wilde en mal wêreld vir haar beter te maak en ek beplan om dit te doen vir so lank as wat ek lewe.”