“Sy is so ’n ongelooflike legende, en ek wou al my lewe lank ’n vertoning saam met haar doen.”

Die gehoor by die KKNK het dié twee sangers staande toegejuig aan die einde van hul vertoning, Hart en See.

Elvis en Laurika is duidelik aanhangers van mekaar, want Laurika vertel sy het iemand eendag die liedjie Voshaarnooi oor RSG hoor sing en geweet sy hoor talent. “Amore (Bekker) het gesê: ‘Dit was Elvis Blue.’”

Elvis erken dat hy op hoërskool so baie van die lirieke van haar liedjies gehou het dat hy dit neergeskryf het. Hy vertel dat ’n paar meisies eenkeer dié aantekeninge in die hande gekry het. “Hulle het gedink ek is ’n vreeslike diep ou. Ek het hulle ook nie reg gehelp nie,” sê hy en lag lekker.

Hul produksie gaan oor die liefde en die natuur; daarom het hulle op die titel Hart en See besluit. Laurika vertel dat sy en Elvis besluit het dié twee temas het baie gemeen. “Albei is misterieus, onvoorspelbaar en is sentraal tot die lewe.”

Elvis sê dis vir hom ’n ongelooflike eer om saam met Laurika op te tree. “Wanneer jy iets regkry wat jy nog altyd wou gedoen het, is dit nogal huge, en dis ongelooflik dat sy van my liedjies sing.”

[post-slider]