en beskryf dit was “een van die onwerklikste oomblikke” van sy lewe.

Die legendariese sanger van die treffer Your Song was stomgeslaan toe die koningin op ’n partytjie in die Windsor-kasteel vra om by hom op die dansbaan aan te sluit vir die klassieke rockliedjie van 1954.

“Ek en prinses Margaret het bevriend geword. Ek het haar eenkeer na ’n fliek in die Odeon Kensington vergesel,” het hy in ’n onderhoud met die TV-aanbieder Graham Norton vertel. “Ons het dit geniet en toe gaan uiteet, en ek het haar daarna huis toe geneem. Daar het natuurlik niks tussen ons gebeur nie.

“Ek het ook met prinses Anne op prins Andrew se 21ste verjaardag gedans en die koningin het oorgestap gekom en gevra: ‘Mag ek by julle aansluit?’ Ons het gedans op Bill Haley se liedjie Rock Around the Clock. Dit was een van die mees onwerklike oomblikke van my lewe,” sê hy.

“Ek is in ’n munisipale huis in Pinner (in die noordweste van Londen) gebore en die kans dat ek met die koningin in Windsor-kasteel sou dans, was baie skraal.”

Elton is baie geliefd in koninklike kringe en is in 1996 tot ridder geslaan vir sy “diens aan musiek en liefdadigheid”. Hy was ook ’n gas op prins William en Kate Middleton se troue in 2011.

Elton (66) was ook ’n hegte vriend van William se wyle ma, prinses Diana, en het op haar begrafnis in 1997 opgetree nadat sy tragies in ’n motorongeluk in Parys gesterf het. Hy het ’n nuwe weergawe van sy liedjie Candle in the Wind opgeneem ter ere van Diana, en dit het een van die topverkoper-enkelsnitte geword.