Sir Elton John dink Miley Cyrus is ’n goeie kunstenaar, wat haar mededingers uitstof.

Sir Elton (66) sê hy is nie ’n Miley Cyrus-aanhanger nie, maar het respek vir haar as ’n kunstenaar. Die Britse sanger het Miley (20) ná haar vertoning by die onlangse MTV-videomusiekpryse (VMP’s) gekritiseer.

Tog het hy op The Ellen DeGeneres Show gesê: “Ek is al lank in die vermaakbedryf; laat ek jou vertel wat by die VMP’s gewerk het. Die hele doelwit van die VMP’s, waar al hierdie groot kunstenaars teen mekaar meeding, is om die kompetisie uit te stof. Miley Cyrus het dit gedoen. Niemand het oor enigiemand anders as oor Miley gepraat nie. Sy het twee albums in die top-10, die nommer-een-enkelsnit. Ek dink nietemin dit was ’n vreemde optrede.”

Elton is ook ’n groot aanhanger van Miley se vorige verloofde, Liam Hemsworth (23). “Ek sal haar ou kêrel vat,” het hy gesê. “Hy is pragtig . . . daardie Australiërs.”