Ja, die superryk Suid-Afrikaans gebore tegnologie-entrepreneur en sy span wil oor slegs sowat 24 maande ’n onbemande kapsule op die Rooi Planeet laat land.

Lees ook: Gateway to Space: Die uitstalling, kom na Suid-Afrika!

En party waarnemers dink nogal nie dié is net warm lug nie, al het Elon-hulle al voorheen skouspelagtige planne aangekondig wat dan ietwat uitgerafel het.

A photo posted by Elon Musk (@elonmusk) on

Hulle sal wel moet roer, want as hulle die bus mis wanneer Mars se wentelbaan hom teen Mei 2018 die naaste aan die aarde bring, sal hulle weer omtrent twee jaar vir 'n geskikte “lanseringsvenster” moet wag. (Mars se gemiddelde afstand van die aarde af is ongeveer 225 miljoen km; en by sy teoreties naaste moontlike punt lê hy net anderkant 50 miljoen km, maar by sy verste punt 400 miljoen km die komos in.)

Musk & kie het boonop 'n paar sakies om af te handel voor 'n potensiële 2018-Mars-aftelling.

A video posted by Elon Musk (@elonmusk) on

Soos om die formidabele vuurpylstelsel wat die Dragon 2 sal karwei klaar te bou... en die fynere besonderhede van hoe jy 'n 6,4 ton-ruimtetuig (sewe keer die gewig van Nasa se Curiosity Rover-verkenningstuig) op 'n planeet met so 'n dun atmosfeer laat land.


“Die uitdaging om van die aarde af tot in 'n Mars-wentelbaan te kom, is heel bestuurbaar,” het John Logsdon, ruimtevaart-kenner van die George Washington-universiteit opgemerk. Met hul Mangalyaan-satelliet het Indië dit immers betreklik onlangs met hul eerste probeerslag reggekry.

Die veel moeiliker deel van SpaceX se sending gaan vanaf die wentelbaan tot op die planeet-oppervlak wees, reken John en al sy eweknieë.

SpaceX werk darem al 'n hele paar jaar aan 'n bemanbare tuig (hoewel dit nie vir die Mars-sending beman sal wees nie). En hulle het lankal gesê hulle beoog om hul Dragon 2-kapsule te beproef deur dit op Mars te probeer land.

A photo posted by Elon Musk (@elonmusk) on

Nommer twee sal nie net groter as die oorspronklike Dragon wees nie, maar ook in staat tot beheerde planeetlandings deur middel van agt vuurpylmotore vir stu-, rem- en stuurdoeleindes.

Mars se atmosfeer is gans te dun (dit sal te min weerstand bied), en die kapsule te swaar vir 'n blote valskermlanding.

'n Spesiale supersoniese valskerm is hoeka tot die uiterste beproef in die Curiosity-landingsproses).

SpaceX se onlangse pogings om met vuurpyle op 'n barg soos groot soos 'n voetbalveld te land, het ook reeds gewys hoe moeilik die landingsfase van die Mars-sending gaan wees.


Aan die ander kant sal die lae swaartekrag, net 'n derde van die aarde s'n, darem met die beoogde `sagte landing' help.

“Hulle kan dit doen, maar die vraag is hoe gou,” het David Hewitt, 'n Amerikaanse ruimtewetenskaplike, opgemerk. Ander kundiges voel ook so.

SpaceX het onlangs laat blyk hulle het al elemente van die Dragon 2 se `SuperDraco'-dryf-landingstelsel in Texas beproef.

Elon het getweet die Dragon 2 is ontwerp om op “enige plek in die sonnestelsel te kan land... en die Mars-sending sal die tuig se eerste toetsvlug wees”. Maar omdat dié prototipe nie regtig vir 'n bemanning ontwerp is nie, sal hy “nie aanbeveel dat ruimtevaarders buite die aarde-maan-omgewing daarin vervoer word nie”.

A photo posted by Elon Musk (@elonmusk) on

Met 'n interne volume skaars so groot soos 'n nutsvoertuig, “sal dit g'n pret wees vir langer reise nie”.

Die ander onmiddellike uitdaging gaan 'n suksesvolle lansering van die Falcon Heavy-vuurpyl wees -- kragtig genoeg om 'n tuig van Dragon 2-skaal so ver te karwei. Dit word vir later vanjaar beplan.

Dié `Heavy' is basies drie van Spacex se Falcon 9-vuurpyle aanmekaar vas. Die Falcon 9 is reeds gebruik in suksesvolle sendings om vrag in 'n Dragon-kapsule na die internasionale ruimtestasie te neem. Maar kenners reken dit gaan heelwat ingewikkelder wees om 'n Falcon Heavy-stelsel te beheer, waar jy basies 27 vuurpylmotore moet laat saamwerk.


SpaceX se sogenaamde Red Dragon-sending word darem ook in 'n uitruilvennootskap deur NASA ondersteun. Die ruimteagentskap sal Elon-hulle raad gee en hulle hul bestaande diepruimte-kommunikasienetwerk laat gebruik, in ruil vir waardevolle data oor hul Mars-sending.


SpaceX se groot ideaal is blykbaar om 'n kolonie op die Rooi Planeet te help vestig... eers 'n aantal vragsendings en uiteindelik 'n bemande koloniseringsending.


Psst...so gepraat van die ruimte

Het jy al jou kaartjies bespreek vir Gateway to Space: Die uitstalling? Gaan loer hier vir ’n agter-die-skerms-kykie en bespreek vandag nog jou kaarjie by Computicket.

GTS colour on black HG

Bronne: spacex.com, nasa.gov, newscientist.com, wired.com, nytimes.com, wsj.com

Ook op Huisgenoot.com

Kan jy glo? Dié nege vreemde goed gebeur in die ruimte met ruimtevaarders

Bel ons binnekort vir ET? Stephen Hawking meen beslis so

Dié foto van Suid-Afrika vanuit die ruimte sal jou asem wegslaan

En daar vertrek die sonaangedrewe Solar Impulse 2 vir ’n reis om die wêreld!

Houston, ons het ’n superaanhanger! SA man besoek Nasa meer as 60 keer