Deur Loren Pienaar (@Loren_Pienaar)

Almal ken die gevoel. Jou wekker lui dou voor dag. Jy staar in ongeloof na die toestelletjie wat so ’n groot geraas kan maak en wonder hoe die nag so vinnig verbygegaan het. Dit voel dan of jy nou net gaan slaap het.

Sommige mense moet daagliks vroeg opstaan, soos kykNET se oggendprogram, Dagbreek, se aanbieder Elma Smit. Sy staan al halfvier op.

“Wanneer my wekker lui, moet ek net nie daaraan dink nie. Ek moet op autopilot opstaan en in die stort spring. By die werk is daar mense en kos en hulle is aan die gesels; so dan word ek wakker,” vertel Elma.

Hier is haar wenke vir vroeg opstaan.

  • Maak seker jy het iets om na uit te sien. Wanneer ek by die werk kom, is daar heerlike koffie.
  • Ek het altyd kafeïen nodig, en om iets te eet werk ook vir my.
  • Besluit die vorige aand wat jy gaan aantrek.
  • Soms drink ek saans melatonien. Dis medikasie wat jy sonder ’n voorskrif kan koop. Dit help ’n hormoon in die brein vrystel wat jou rustiger maak sodat jy kan afskakel.
  • Gaan slaap vroeg. As ek nie teen tienuur in die bed is nie, dan weet ek, ek gaan die volgende dag probleme hê.
  • Ek probeer om nie bedags weer te gaan slaap nie, want dit sal my roetine omvergooi.