Ellen DeGeneres (55) en Portia de Rossi (40) het die prys van hul huis in Kalifornië met R20 miljoen verhoog . . . minder as drie weke nadat hulle dit in die mark gesit het.

Die egpaar se huis in Thousand Oaks was aanvanklik te koop teen R110 miljoen, maar die prys het nou na R130 miljoen opgeskuif.

Die eiendom is in die eksklusiewe Hidden Hills-area en was al talle kere te koop. Volgens die eiendomwebtuiste Redfin.com het dit ’n hoofhuis, kothuise en gehaltegeriewe vir perde.

Die skatryk egpaar, wat onlangs ’n herehuis in Montecito, Kalifornië, vir R265 miljoen gekoop het, het ook verlede maand hul dakwoonstel in Beverly Hills vir sowat R9 miljoen in die mark gesit. Dis glo nog net deur familielede en personeellede gebruik. Die hoek-dakwoonstel word beskryf as ’n ruim eenheid vol lig, omring deur bome en met ’n uitsig oor die berge.

Die geselsprogramaanbieder besit verskeie ander eiendomme in Los Angeles. Sy het geskrik toe ’n brand onlangs een van haar eiendomme, ’n plaas in die Camarillo-area van Kalifornië, bedreig. Sy het brandbestryders later geloof omdat hul vinnige reaksie verhoed het dat die brand skade aanrig.