Ruben het op net drie maande 'n dodelike virusinfeksie gekry en is toe drie maande in die Garden City-hospitaal in Johannesburg behandel, 'n lang drie maande waarin sy longe onder meer platgeval het. In dié tyd was hy aan 'n ventilator gekoppel en is hy ook behandel deur 'n dokter wat na die bekende brandslagoffertjie Pippie Kruger omgesien het, dr. Miles Bartlett.

“Met die Here se genade het hy deurgedruk, maar hy het later verskriklik ekseem begin kry. Die dokters het toetse gedoen en dit is toe dat ons uitvind hy het min tot geen imuunvlakke nie,” sê sy.

Daar is vasgestel Ruben is gebore met die seldsame immuungebrek SCID (Severe Combined Immunodeficiency). Lyers van dié toestand is uiters vatbaar vir aansteeklike siektes, selfs alledaagse kieme, en daar is gevalle waar hulle in 'n steriele omgewing leef. Die immuunstelsel van SCID-pasiënte is so erg verswak dat dit beskou word as byna totaal afwesig.

Maar die nagmerrie was nie verby vir hierdie ma nie. Toe klein Ruan in die wêreld kom, is vasgestel hy ly ook aan dié aangebore toestand.

“Jy kan maar sê die fliek Bubble Boy, waar die seun in ? borrel moet bly sodat hy nie siek word nie, is gebaseer op my kinders se lewe,” vertel Katinka Roodt.

“Dit is ? geval van een uit ? miljoen mense wat met die siekte gebore word, maar hier sit ek met twee kinders wat dit het.”

“Toe Ruan gebore is, het ek dadelik geweet iets is fout,” sê sy, “Die dokters het hom onmiddellik weggevat om toetse te doen. Ek kon nie eens aan hom vat nie.”

Ruan is gebore met gastroskise, 'n toestand waar die baba se ingewande buite die liggaam is.

“My kind was drie uur oud toe hy  ? sewe uur lange operasie moet ondergaan.”

Die operasie was ? sukses, maar toe vind Katinka en haar man, Pieter, uit dat Ruan ook aan SCID ly.

Die twee seuns moet weekliks deur middel van 'n drup immuunaanvullings kry. Dié aanvullings bevat onder meer antiliggame.

“Ons moet elke week ons Donderdag opsysit sodat hulle hospitaal toe kan gaan vir die drup,” sê sy.

Die enigste oplossing is dat albei seuns ? beenmurgoorplanting kry.

Vir Ruan is daar twee moontlike beenmurgskenkers in Suid-Afrika, maar Ruben het net agt moontlike skenkers in die wêreld, sê Katinka.

Die operasies vir die twee kinders beloop altesaam R6 miljoen, waarvan die mediese fonds R5,3 miljoen gaan opdok. Die ouerpaar moet R750 000 self betaal.