Net twee dae nadat prins William van Brittanje en Catherine, die hertogin van Cambridge, se seun gebore is, het ons eie kroonprins en -prinses ’n aankondiging van hul eie gemaak . . .

Elizma Theron verwag haar en haar man, die helikopterloods Nico Grobbelaar, se eersteling. Gisteraand het ons die beeldskone egpaar op die rooi tapyt by die Huisgenoot Tempo-toekennings by Gold Reef City raakgeloop en hulle het opgewonde die goeie nuus gedeel. “Ek voel fine, maar is ’n bietjie moeg,” het Elizma vertel.

Die sangeres weet al drie weke lank sy verwag, maar hulle was huiwerig om die nuus te vroeg te deel. Hul opwinding het egter die oorhand gekry. “Sy gaan die mooiste mamma wees,” het Nico gekoer. “En hy die aantreklikste pappa!” het Elizma borrelend gesê.

“As dit ’n seuntjie is, moet hy net soos Nico lyk,” het sy byvoeg. Die twee duifies is op 2 November verlede jaar in die Kalahari getroud en het vertel dat hulle nie lank wou wag voor hulle met ’n gesin begin nie.

Sy wou die nuus met haar Facebook-aanhangers deel en het hierdie boodskap vir hulle geskryf: “Hi, almal! Ek dink vandag is ’n goeie dag om ’n bietjie nuus met julle te deel . . . ons wou dit net vir ’n rukkie eers stil hou . . . alhoewel dit vir my baie moeilik was om dit nie met julle almal te deel nie. Ek en Nico het so ’n bietjie meer as drie weke gelede uitgevind ons gaan mamma en pappa word. Ons is baie opgewonde en kan nie vir Liewe Jesus genoeg dankie se vir hierdie groot blessing nie. Hoop julle is saam met ons bly en opgewonde! (Happy dance :D).”

Ons is saam met hulle verheug en weet sommer hul prinsie of prinsessie gaan wonderlike ouers hê. Baie geluk!

- Loren Pienaar