Polisie sê hulle het Colombia se jongste dwelmmuil vasgetrek toe ’n 11-jarige meisie ’n operasie ondergaan om meer as 100 kapsules uit haar maag te verwyder.

Die kind is onder polisiebewaking in ’n hospitaal in Cali in die weste van Colombia ná ’n mislukte poging om dwelms – wat in die kapsules versteek is –Europa toe te smokkel.

“Daar is 104 kapsules verwyder. Dit word nou getoets om te bepaal watter onwettige dwelmmiddel dit is,” het die Cali-polisiehoof Hoover Penilla Dinsdag gesê.

Die meisie is gebruik om 500-600 g dwelms Europa toe te smokkel, het Hoover gesê, en het bygevoeg sy is die jongste dwelmmuil wat die Colombiese polisie al betrep het.

“Alles dui daarop dat volwassenes haar so misbruik het,” het hy gesê.

Die meisie se ouers is uitmekaar. Haar ma sê die meisie het ’n naweek by haar pa deurgebring en met haar terugkoms het sy die aand olik gevoel. Toe sy die oggend steeds siek was, is sy hospitaal toe geneem, het Hoover gesê.

Die owerheid is op soek na die pa, het hy bygevoeg.

Colombia is een van die lande wat die meeste kokaïen uitvoer, tesame met Peru, volgens data van die Verenigde Nasies.