Shadrack Palmer, kommersiële hoofbeampte by FNB Service Provider, sê hul kliënte het verlede winter gemiddeld 12 persent meer op voorafbetaalde elektrisiteit uitgegee het as in die voorafgaande seisoen. Dit was boonop ná 'n kragprysverhoging van 9,4 persent in April verlede jaar.

Eerskomende Saterdag word Eskom se jongste tariefaanpassing van 2,2 persent vir munisipaliteite van krag. Dit klink dalk nie hierdie keer so erg nie, maar baie van ons vrees reeds daardie maandelikse kragrekening.

Hierdie wenke  kan jul kragverbruik help beperk:

1 Beligting: Gebruik deurgaans energiedoeltreffende gloeilampe en skakel die ligte af in vertrekke wat jy nie gebruik nie. Dit maak  'n verskil, benadruk Eunice Sibiya, hoof van verbruikersopvoeding by FNB.

2 Bly warm: Die Stad Kaapstad se verbruikersadviesafdeling stel voor jy moet seker maak jy is warm genoeg aangetrek voor jy 'n verwarmer aanskakel. Katoen werk goed in die somer, maar in die winter kan jy iets sinteties soos pluisstof (fleece) of wol oorweeg; dit vang hitte better vas. 'n Mus of warm hoed en serp sal ook help, want baie liggaamshitte gaan bo die skouers verlore. 

Kry dalk ook eers 'n warmwaterbottel voor jy die elektriese kombers aanskakel. En/of gebruik laasgenoemde meer energiedoeltreffend deur dit net 'n paar minute op 'n hoë verstelling te laat bak en dit af te skakel wanneer julle inkruip.
Gasverwarmers en -stowe kan ook kragrekenings in die winter help beperk, voeg Eunice by.

3  Warm water: Stel jou geiser op 60 °C, is die Stad Kaapstad se raad. Net dit kan reeds 'n beduidende verskil aan jou rekening maak. In sommige gevalle is selfs 55 °C voldoende. Skakel dit ook af wanneer julle vir 'n paar dae weggaan. Jy kan so ook heelwat spaar, aangesien die element daagliks 'n paar keer herverhit solank die geiser aan is.

Moet ook nie onnodig warm water gebruik nie; was eerder jou hande met koue water en seep en gebruik die prop. Deur korter te stort kan jy ook tot vyf keer minder elektrisiteit gebruik as wanneer jy bad, en boonop tot 80 persent minder water.
Geisers gebruik die meeste krag in die meeste huishoudings, sê Eunice; daarom kan 'n geiser-tydskakelaar ook van nut wees. 

4 Yskaste en vrieskaste: Ouer modelle gebruik gewoonlik heelwat meer elektrisiteit as nuwes aangesien hulle harder moet werk om die regte temperatuur te handhaaf. Oorweeg dus om sulke toestelle te vervang of ten minste te laat versien.

5 'Klein dingetjies' wat saam 'n groot verskil kan maak: Gebruik selfs in die winter 'n swembadseil; filtreerders gebruik heelwat elektrisiteit. Onthou ook al die toestelle in jou huis wat nie heeltemal afgeskakel is nie, maar pal "gereedstaan" (standby mode), kan saam beduidend bydra tot hul kragverbruik. Die Stad Kaapstad stel ook voor dat jy jou vensters doeltreffend inspan as jou huis noord front. Trek al jou gordyne oop om die hitte van die winterson in te laat, maar maak die vensters eers vir vars lug oop wanneer temperature smiddae hul hoogtepunt bereik. En maak dan weer vensters en deure toe voor dit saans koel raak.

Laastens kan jy oorweeg om vir kragbesparing op die lang duur te belê in 'n geiser wat met sonenergie werk. So kan jy eindelik 25-50 persent op elektristeit bespaar.