Carlie Maree sal altyd die dag onthou waarop haar lewe vir altyd verander het.

[caption id="attachment_131992" align="alignnone" width="600"]Carlie Carlie Maree sê sy sal nooit die dag vergeet waarop sy ontdek het haar man verkul haar nie.[/caption]

Dit was 22 Mei 2015, ’n ietwat gewone dag wat ’n slegte wending geneem het toe sy ’n e-pos met die kriptiese opskrif ‘Jou man’ ontvang. Dit was van sy minnares.

“Vandag ’n jaar gelede het jy ‘stuur’ gedruk op ’n e-pos wat ’n ontsaglike uitwerking op verskeie mense se lewe gehad het,” skryf Carlie in ’n ope brief wat aan die ander vrou gerig is.

In die brief, wat die eerste keer op die Australiese webtuiste Mama Mia verskyn het en sedertdien soos ’n veldbrand versprei het, onthul Carlie die e-pos het nie net haar lewe verander nie, maar ook dié van haar “man, my dogter, ons albei se ouers en familie, ons vriende”.

“Ek wonder dikwels wat op daardie oomblik deur jou gedagtes gegaan het, hoeveel daarvan wraak was teen ’n man wat jou hart gebreek het en hoeveel daarvan jy was wat die regte ding vir sy vrou probeer doen.

“Die mate van besonderhede wat jy verskaf het, het gevoel asof dit beplan is om pyn te veroorsaak. Jy het geweet wat ’n vrou sou moes hoor om ’n keerpunt in haar huwelik te bereik en jy het dit toegedien, hou vir hou.”

In die brief wonder Carlie, ’n lewensafrigter en skrywer, hoeveel die ander vrou oor haar geweet het: Het sy haar aanlyn opgesoek, haar blog gelees en haar foto’s gekyk?

Sy wonder ook of die onbekende minnares geweet het die nuwe ma sou by die werk gewees het op die dag waarop sy die e-pos gestuur het. “Ek wonder of jy hom nou jou ekskêrel noem. Dis vir my so bisar om te dink hierdie man wat ek so intiem ken, het hierdie betekenisvolle ander mens in sy lewe gehad waarvan ek nie geweet het nie.”

Die skrywer erken ook sy het “diep binne-in” nie gedink “dit kon met ons gebeur nie”.

“Ons was standvastig, ek en hy. Ek het regtig so gedink. Ons het ’n ses maande oue baba gehad en hy was baie weg vir werk. Natuurlik was dit moeilik en ons was nie so na aan mekaar soos voorheen nie, maar ek het nodig gehad dat hy vir my vasbyt, tot dit makliker gaan. Ek dink hy sou as jy nie op daardie oomblik opgedaag het nie.”

Sy wonder ook hoeveel van die affair was “hy wat probeer vind wat hy in my verloor het”.

“Ek was eens ’n oulike blondine in ’n kort romp agter die toonbank by sy gunsteling-kroeg. Tien jaar later was ek die ma in die jogabroek met die grys uitgroeihare en sakke onder haar oë van heelnag wakker wees met ’n siek baba.

“Hy was veronderstel om ook daardie weergawe van my lief te hê. En hy het, maar hy het die meisie gemis wat niks gehad het buiten tyd om aan oor hom te kloek nie. Dis wat jy hom gegee het.

“In ’n seker opsig is ek eintlik bly. Ek het sleg gevoel dat hy al daardie aande alleen in ’n hotel deurbring, weg van sy gesin af. Maar hy was nie alleen nie; hy was saam met jou. Hy het sy verjaardag saam met jou deurgebring.

“Jy het hom vertroos toe ons ons geliefde hond aan die slaap laat maak het. Ek het die man lief genoeg om bly te wees hy kon in daardie tye liefde vind, al was dit nie van waar ek wens dit was nie.”

Al noem Carlie nie die ander vrou se naam nie, vertel sy sy het dieselfde naam as haar dogter se vriendin, wat beteken sy hoor die naam “dikwels”.

“Net soos die ou cliché het jy geglo hy sou my los vir jou. Maar hy het nie.”

“Hy het jou in die steek gelaat. Ons dogter het ouer geraak, ophou voed en begin slaap. Hy het die vrou begin sien op wie hy soveel jaar gelede verlief geraak het. Hy wou dit laat werk saam met sy vrou, saam met sy gesin. Ek is seker dit het jou seergemaak.

“Jy het ’n keuse gehad. Jy kon hom laat aangaan met sy lewe en sy huwelik probeer laat werk of jy kon dit alles van hom wegneem. Jy het die tweede opsie gekies.”

Terwyl sy volhou sy stel nie belang in blaam uitdeel nie, skryf sy is blykbaar nie “tot haat in staat” nie. Sy en haar man het hul huwelik probeer red ná die affair, “maar dit het net nie gewerk nie”.

“Ek was anders. Dit was die klein besonderhede wat dit veroorsaak het. Daardie woorde en beelde in my gedagtes ingeëts. Ek dink jy het geweet dit sou. Maar ons is nou albei oukei, en ek hy; trouens, in ’n seker mate is ons nou nader aan mekaar as ooit.

“Ons het so baie oor mekaar geleer. Al het ons elkeen aangegaan met ons lewe, het ons steeds liefde en respek vir mekaar, wat ’n positiewe uitwerking op ons dogtertjie het. Niemand sal dit ooit breek nie.

“Ek hoop jy het ook met jou lewe aangegaan. Ek hoop jy het uit die situasie geleer en dat jy vrede in jouself kan vind, soos ek het.”

Bronne: mamamia.com.au, carliemaree.com