“Hy het huiwerig geklink en toe gegiggel. Ek het gedog dit was ’n poets. Maar hy was agterna kalm,” het sy getuig.

  Sy het ook gesê sy oproep was teenstrydig met wat normaalweg gebeur in gevalle waar mense aangeval word. “Hulle is gewoonlik rasend, gillend, skreeuend, in trane. Hulle kan ook nie hul eie nommer onthou nie en is verward,” het Philander getuig. Ook die duur van die oproep was opvallend anders. Dit het sowat 15 min. aangehou. Sy het gesê mense dring gewoonlik daarop aan dat die diens so gou as moontlik moet opdaag omdat “hulle besig is om dood te gaan”.

Henri het volgens haar ook nie opgewerk of kwaad geraak of haar onder druk geplaas nie, maar net kalm gebly.

Sy het ook aangedui dat die ambulansbestuurder vertroud was met die omgewing en byna reeds op die toneel was teen die tyd dat die oproep afgehandel is.

Luister hier na die noodoproep tussen Henri en Philander.

Weens swak klank kon die sewe klankgrepe van die oproepe tussen die verskillende nooddienste nie Dinsdag in die hof gespeel word nie. Die saak is tot Woensdag uitgestel.

Vroeër vandag

Die Van Breda’s se buurvrou Stephanie Op’t Hof het vroeër Dinsdag getuig dat sy harde stemme gehoor het. Sy het voet by stuk gehou dat dit beslis nie ’n fliek se klankbaan was wat sy gehoor het nie, maar beslis die klank van mans wat gestry het. Op’t Hof het dit vreemd gevind dat Henri nie na haar toe gekom het en om hulp te vra ná die beweerde aanval op hom en sy gesin nie.
Op ’n vraag van regter Siraj Desai oor haar kinders wat in die vroeë oggendure wakker sou wees, het sy gesê haar jongste het soms wakker geword, maar dit was vir haar vreemd dat die ouer een ook wakker was. Sy weet nie wat hulle wakker gemaak het nie.