Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwyersunie (Sadou) het Dinsdag planne verwelkom om vir onderwysers ekstra opleiding te gee, maar sê die model daarvoor moet deeglik bekyk word.

Dit volg op ’n berig deur die Afrikaanse koerant Beeld dat die departement van basiese onderwys aanbeveel het dat graad agt en nege wiskunde-onderwysers een keer per week ekstra lesse moet kry. Die onderwysers sal na berig word vir 23 dae van die jaar ekstra opleiding ontvang.

Sadou het gesê die program sal roosters beïnvloed en die onderwysers se werklading verhoog. “Die afwesigheid van onderwysers vir ’n dag sou lei tot ontwrigting aangesien sommige leerders nie die nodige aandag sou kry nie,” het die unie gesê. “Skole moet elke dag op ’n doeltreffende wyse funksioneer.”

Die unie het gesê die departement moet in ag neem dat onderwysers klas in meer as een graad en meer as een vak gee. “Die departement se plan sal ’n krisis oplos deur nog ’n krisis te skep.”

Sadou het ’n beroep op die department gedoen om onderwysvakbonde te raadpleeg oor die opleiding sodat daar ’n oplossing gevind kan word.