Die Verenigde Nasies se gesondheidsagentskap se aankondiging volg nadat ’n Amerikaanse maatskappy ’n eksperimentele serum ontwikkel het en al sy beskikbare voorraad na Wes-Afrika gestuur het. Dié gebied gaan die ergste gebuk onder die virus.

“Onder die spesifieke omstandighede, en mits sekere voorwaardes nagekom word, is dit eties om intervensies te benut wat tot dusver onbewese is en waarvan die doeltreffendheid en nadelige gevolge onbekend is,” het die WGO in ’n verklaring ná ’n vergadering met mediese kenners in Genève, Switserland, gesê.

Die huidige uitbreking, wat beskryf word as die ergste sedert die Ebola-virus sowat 40 jaar gelede ontdek is, het reeds 1 013 lewens geëis, het die WGO gesê. Die gevalle is tot dusver beperk tot Guinee, Liberië, Sierra Leone en Nigerië, waar die swak toegeruste en wankelrige gesondheidstelsels sukkel om die mas op te kom.

’n Bejaarde Spaanse priester wat die virus opgedoen het terwyl hy pasiënte in Liberië gehelp het, is Dinsdag in ’n hospitaal in Madrid, Spanje, oorlede, vyf dae nadat hy ontruim is. Hy is die eerste Europeër wat aan die siekte beswyk.

Die Liberiese owerheid het gesê hulle het monsters aangevra van ’n eksperimentele middel, ZMapp, wat ’n positiewe uitwerking getoon het by twee Amerikaanse noodlenigingswerkers. Dit kon egter nie die Spaanse priester red nie.

Daar is tans geen geneesmiddel vir of entstof teen Ebola nie, en die WGO het die uitbreking as ’n wêreldwye openbaregesondheidsnoodgeval bestempel. Tog het die gebruik van eksperimentele medikasie ’n etiese debat laat ontstaan. Ten spyte van belowende resultate met die ZMapp-behandeling, wat deur die Amerikaanse maatskappy Mapp Biopharmaceutical vervaardig word, is dit steeds in ’n vroeë ontwikkelingstadium en is dit voorheen net op ape getoets.

ZMapp is baie skaars, maar die gebruik daarvan op Westerse noodlenigingswerkers wat verlede week na Amerika ontruim is, het omstredenheid gewek, asook eise dat dit in Afrika beskikbaargestel word.

ZMapp het gesê hulle het al hul beskikbare voorraad Wes-Afrika toe gestuur. Die maatskappy het nie onthul watter land die middels ontvang het nie, of hoeveel gestuur is nie. Maar die Liberiese presidensie het gesê: “Die Withuis en die VSA se voedsel- en dwelmadministrasie het die versoek goedgekeur vir monsterdosisse van die eksperimentele serum vir die behandeling van Liberiese dokters wat tans met die dodelike Ebola-virus besmet is.”

Guinee, Liberië en Sierra Leone trek die swaarste onder die uitbreking, maar in Nigerië, Afrika se digs bevolkte land, is daar ook al twee mense dood.

Verskeie lande het noodmaatreëls ingestel, insluitend vliegverbiedinge en verbeterde klaringsprosesse.

- Sapa