Die akteur David Arquette gaan weer pa word. Die ster van Scream en sy vrou, Christina McLarty, het aangekondig hulle verwag ’n seuntjie. “Ek voel so ongelooflik geseën en geëer dat my vrou @christinaarquette swanger is met ’n seuntjie!” het hy op Instagram geskryf. “Dankie, Christina. Ek is so dankbaar teenoor God vir hierdie ongelooflike geskenk! Charlie en Coco is baie opgewonde en ek is in die wolke!”

Die boodskap is gedeel saam met ’n video van die paartjie se tweejarige seun, Charlie West Arquette, wat ’n sonogram soen en “haai” vir sy ongebore bababoetie sê.

Dis David en Christina, wat verlede jaar afgehaak het, se tweede kind. Die akteur het ook ’n 12-jarige dogter, Coco, uit sy eerste huwelik met die aktrise Courteney Cox. Die paartjie is in 2013 geskei nadat hulle drie jaar lank nie meer saam gewoon het nie. Courteney is nou verloof aan Johnny McDaid van die musiekgroep Snow Patrol.

Die goeie nuus kom ’n maand ná David se suster, Alexis, se dood. Die transgender aktrise en aktivis is op 11 September in die ouderdom van 47 jaar dood.

davidswanger

“Sy was op die voorpunt in die stryd om begrip en aanvaarding vir alle trans-mense te skep,” het ’n verklaring van die familie ná haar dood gelui.

“Sy’t haar werklikheid met mening uitgeleef in ’n wêreld waar dit gevaarlik is om ’n trans-mens te wees – ’n wêreld wat grotendeels nie reg is om verskille onder mense te aanvaar nie en waar daar nog die onreg van geweld en vyandigheid is teenoor mense wat ons dalk nie verstaan nie.

“Soos Alexis die oorgang na vrou-wees gemaak het, het sy ons verdraagsaamheid en aanvaarding geleer. En soos sy deur die proses gegaan het, het sy ons suster geword en ons geleer wat ware liefde is. Dankie aan almal vir jul liefde en mooi woorde oor Alexis,” het David – wat by sy suster was toe sy sterf – op Twitter geskryf.

“Sy’s vir altyd my held.”

© Cover Media