Vir Keagan Rossouw (8) is die sanger Manie Jackson soos ’n pa. En vir Manie is die klein vegtertjie met Fanconi se sindroom ’n held.

Vroeër vandeesweek het die twee sangers kragte saamgespan en Manie se liedjie Die Hemel Weet opgeneem vir sy nuwe DVD wat vroeg volgende jaar uitgereik word. Die DVD sal ’n versameling wees van al Manie se musiekvideo’s oor die jare.

Dit was ’n dag van “vet pret”, vertel Manie. Keagan en Manie het papier-klip-en-skêr gespeel, Keagan het tamatiesous in Manie se mond gespuit en hulle het mekaar met ’n viltpen bekrap. Elke nou en dan het Keagan iets in Manie se oor gefluister.

Maar die ware magic het gekom toe Keagan op ’n bruin kroegstoeltjie gaan staan en saam met Manie lostrek.

“Die mense was almal in trane. Keagan kan nie hoor nie. Sy onderwyseres sit voor hom. Hy lees haar lippe en so maak hy seker hy volg die musiek,” vertel Manie.

Die sanger het Keagan eenkeer by ’n vertoning ontmoet toe Keagan een van sy CD’s koop. Op Vrydag 18 November, terwyl Keagan in Vanderbijlpark opgetree en “Die Hemel Weet” gesing het, het Manie hom verras en die liedjie saam met hom gesing. Die video hiervan is byna 40 000 keer gekyk.

KY DIE VIDEO HIER

Dit is toe dat Manie besluit om ’n duet saam met Keagan op te neem. Die tantième van hul liedjie sal vir Keagan se mediese onkoste aangewend word.

“Ek wil die seun help. Die siekte wat hy het, is ’n soort beenmurgsiekte. Dit tas sy sig en sy gehoor aan. Hy het nie duime nie en het net een nier,” vertel Manie. “Die beenmurgsiekte kan later in kanker omskakel. Ek is nou in ’n posisie waar ek hom kan help om sy drome waar te maak.”

Nadat Manie en Keagan gesing het, het Adam Tas (wat die musiekvideo maak) se vrou vir Keagan gevra waar hy sy mooi stem kry. “Hy wys so met sy vinger na bo en sê van die Here af”.

Keagan sing al vandat hy drie jaar oud is. Eers het hy net konserte vir sy ouers, Stefan en Chantel, gehou. Toe hy vyf jaar oud is, het hy begin optree. Van sy gunstelingliedjies om op feeste en by skole, kerke en ouetehuise te sing, is van Manie se liedjies.

“Hy is een van my gunsteling-ouens. Hy is soos my familie,” sê Keagan. “Manie is baie vriendelik en praat mooi met my. Ek gesels lekker met hom.”

Wanneer jy vir Keagan oor sy siekte uitvra, gee hy vinnig die telefoon vir sy ma, Chantel.

Sy verduidelik Fanconi se sindroom (Fanconi anemia) is ’n genetiese siekte met ’n klomp gebrekkies en Keagan “het omtrent alles wat in die boek staan”.

Keagan is sonder gehoorkanale gebore. Hy dra ’n gehoortoestel op sy kop wat hom help hoor. Hy is sonder ’n radius in sy een arm gebore wat daartoe gelei het dat sy arm baie krom is. ’n Pen is later in die arm gesit om dit reguit te maak. Sy slukderm was ook aan sy longe gekoppel, wat tot gevolg gehad het dat Keagan tot vyf jaar nog met ’n voedingsbuis gevoer is.

Hy is ook chronies op medikasie.

Maar moenie dink dat enigiets hiervan Keagan onderkry nie. Hy is in ’n gewone skool op Rustenburg en gaan volgende jaar gr. 3 toe.

“Hy is ’n klein vegtertjie,” sê Chantel. “Hy dink nie daar skort enigiets met hom nie. Hy is glad nie skaam nie en het baie selfvertroue.

“Ons het hom van kleins af geleer hy is nie gestrem nie.  Hy word groot met die denke dat hy normaal is, net spesiaal.”

KYK DIE SPESIALE VIDEO HIER: