Met hul tone in die rooi, poeierige sand het hulle ’n paar meter van die hek na die Kgalagadi-oorgrenspark uitgekamp.

Sowat 80 lede van die alombekende Kruiper-familie was, meer as vier jaar ná oom Dawid Kruiper se dood op 13 Junie 2012, daar om ’n nuwe leier vir die //Hanaseb-stam te verwelkom.

Ouma Mietha Gooi (70), een van die oudstes, het die nuwe leier maande tevore in ’n droomgesig gesien en die Kruipers en die ander families in die stam laat weet dis tyd dat “die legkaart voltooi word, dat die kop van die stam, wat weg was, terugkeer”.

Wie hy sou wees, het sy vir almal behalwe haar skoonsuster, Magriet Malgas (80), geheim gehou. Tot nou.

“Vandag bring ouma Mietha daardie gesig vir die volk: Dis Dawid Kariseb Kruiper,” het Ruben Festus aangekondig dat die oudstes wyle oom Dawid se 50-jarige grootmaakseun eenparig as hul nuwe leier aangewys het.

Ruben (45) het Huisgenoot in ’n e-pos uit die Kalahari laat weet van die leiersverkiesing hier tussen die rooi duine.

“Vind meegaande jou onvoorwaardelike uitnodiging,” het dit gelui.

[caption id="attachment_147448" align="aligncenter" width="600"]Huisgenoot-joernalis Pieter van Zyl en skrywer van hierdie artikel, word ontvang en na die tent begelei vir die inhuldigingsproses. Huisgenoot-joernalis Pieter van Zyl en skrywer van hierdie artikel, word ontvang en na die tent begelei vir die inhuldigingsproses.[/caption]

“Op 23 Oktober steek hulle die vure aan en kies die oudstes op ’n indaba van 27 tot 28 Oktober ’n nuwe leier.

"Volgens my ouma Mietha Gooi se regter-elmboog sal dit die warmste, mees bewolkte en reënerigste week in die geskiedenis van die Kalahari wees,” lui sy amptelike uitnodiging verder. “Ons kyk maar wat gebeur.”

Dawid Kariseb geniet nou dieselfde status as ander tradisionele leiers in Suid-Afrika en sal sy mense se saak in die parlement en selfs by die Verenigde Nasies kan gaan stel. Die ampswoning en -motor wat daarmee gepaardgaan, is vir hom bysaak.

Hy het besluit sy ampswoning moet op Welkom in die Kalahari gebou word, in die hartjie van die gebied waaroor sy mense versprei is. Hy het ook daar klaargemaak met laerskool en daarna kunshandwerk aan toeriste verkoop.

Nou gaan hy hom beywer vir die verwesenliking van sy mense se droom van vrye toegang na hul voorvaders se grafte in die oorgrenspark, sonder om eers toestemming te moet vra. “My volk het vryheid nodig,” sê die nuwe leier . . .

Nadat die kwik al by 41 grade gaan draai het, het daar kort ná die leier se inhuldiging skielik vlieswolkies in die blou hemel verskyn en reënwolke begin aanpak. Dalk het ouma Mietha Gooi se regter-elmboog tog die weer reg voorspel . . .

Nog 'n video uit die Kalahari - drie susters wat 'n taal praat wat ongelukkig die kans staan om uit te sterf. Hulle is dalk die laaste vlot sprekers van N|uu.