Sy hoor hoe die narkotiseur hier in die teater praat van die narkose-middels wat hy gaan toedien. ’n Rukkie later lê en wonder sy wanneer hy dan nou die slaapmiddel in haar are gaan spuit, want sy lê steeds wawyd wakker. Maar dan hoor Stephanie Oelofse hoe ’n dokter vir ’n ander sê hy gaan haar maag oopsny.

Sy probeer vir hom sê sy is nog wakker, maar haar lippe wil nie beweeg nie. Asof deur ’n newel kyk sy hoe die mes na haar maag beweeg. Sy verwag om ondraaglike pyn te ervaar wanneer die lem deur haar vel sny, maar wonderbaarlik voel sy niks.

Vroeër die oggend is sy hier in die Unie-hospitaal in Alberton opgeneem nadat sy by die huis skielik nie kon asem kry nie. Nou sny die dokters haar oop om te kyk of ’n maagseer nie dalk gebars het nie – en sy maak elke oomblik mee. Hulle vind niks fout nie.

Sy hoor self hoe die dokter sê haar buik is skoon; hulle kan maar weer toewerk. Dan skielik word dié vreemde ervaring ’n lewende nagmerrie. ‘‘Ek voel nie meer ’n pols nie; haar hart is besig om af te skakel,’’ hoor sy die teatersuster se benoude stem hier êrens bo haar kop.

Die 51-jarige vrou sien hoe ’n dokter haar lyf skok om haar hart weer aan die klop te kry, en steeds voel sy niks. Hy skok haar ’n tweede keer. En dan gebeur die ondenkbare. ‘‘Ons kan haar nie bybring nie,’’ hoor sy ’n dokter moedeloos sê.

‘‘Hou aan probeer, ek leef nog, probeer nog net een keer!’’ probeer Stephanie skree, maar geen geluid kom uit nie. Hulle het moed opgegee, dink sy. Sy gaan nooit weer haar kleinkinders sien nie.