“Ek was getroud met ’n smokkelaar. Hy smokkel steeds. Ook was hy betrokke by sameswering tot moord,  motordiefstal en ander misdade. Hy het my in sy mag gehad en emosioneel gevange gehou deur dreigemente. Ek wil nie meer gevange gehou word hierdeur nie.”

“Ek is bang hy vind uit waar ek is,” vertel Elaine* vanuit ’n klein dorpie iewers in die Noorde van die land. Sy het gelukkig nou ’n werk in ’n drankwinkel gekry, want sy het gevlug met byna net die klere aan haar lyf. “Ek het op ’n bus geklim en vier nagte op straat geslaap, in die toilette van vulstasies.

Elaine het ’n skoolvriendin op Facebook opgespoor, en bly sedertdien by haar en haar man op die dorp waar hulle nou is.

“Hulle red my lewe . . .”

Hulle het mekaar in Mei 1985 by ’n gewilde dansplek in Pretoria ontmoet. Sy beste vriend was Elaine se kêrel. “Ons het verlief geraak en is einde Julie 1985 getroud. Hy het met ’n tas klere by my in my huurwoonstel ingetrek.”

’n Paar maande ná hul troue het hy sy werk verloor. En weer werk gekry en dit verloor – jare aaneen. Dan was hy ’n sekuriteitswag, dan weer eienaar van sy eie sweisonderneming . . .”

Ná die afsterwe van haar pa, het hulle by haar ma ingetrek. Hy kon steeds nie ’n werk behou nie. “Ons het drie kinders gehad. Namate die kinders groter geword het, het hy al hoe hardhandiger met hulle begin werk. Eenkeer het hy die oudste so aangerand dat ek die polisie gebel het. Hulle wou nie uitkom nie.”

Hulle het glo gevra: “Is jou seun dood?” En toe sy nee sê, lui hulle af. “Dalk het hy connections in die polisie gehad. Ek weet nie.”

Hy het betrokke geraak by ’n motordiefstalsindikaat. “Hy sou my inlig dat hy snags gaan werk, maar dat ons veilig sou wees aangesien iemand naby sou wees en die huis sou dophou.

“Dan sou hy verdwyn en eers die volgende dag terugkom. Hy het elke keer vertel dat hy vir iemand ’n motor moes ‘steel’ sodat die persoon versekering kon eis. Soms het hy selfs die kliënt se naam genoem. Dan het hy vertel hoe hy heelnag moes rondry en deur die kontakte aangesê is waarheen hy die motor moes neem.”

Sowat twee weke ná hul troue het hy begin vertel van ene José, “ ’n kort, mollige Portugees met ’n blas vel. Hierdie man sou deel van ons bestaan wees tot aan die einde.”

Hy het selfs ’n ring laat maak wat hom deel maak van die bende, of “netwerk”, soos hy dit genoem het. Hy het dikwels gesê een van die twee seuns sou eendag die posisie moes oorneem en dan die ring moes dra.

In 2000 was sy teenwoordig waar hy beplan het om ’n man van Witbank “uit te haal”, omdat hy sy vrou aangerand het. Hy het gesê dat hy hom laat dophou het en sy bewegings ken.

“Dit het my dwars in die krop gesteek, maar omdat ek so bang was vir José, kon ek niks doen behalwe bid nie. Twee dae voor hy die daad sou pleeg, het hy tot ‘bekering’ gekom en die plan laat vaar.

“Sy ‘bekering’ het ook ons verhouding verander, aangesien ek nou geleer is dat hy verantwoordelik is vir besluite. Ek as onderdanige vrou moet hom ondersteun, omdat God dit van my verwag. Dan sal ek gehoorsaam aan God wees.

“Hy het by die kerk se selgroepbyeenkomste en selfs in die kerk getuig van sy wandade ‘in die verlede’. Ons huwelik was dikwels as norm gebruik in besprekings. Natuurlik as die ‘goeie huwelik’.”

Hy het in 2006 as trokdrywer begin werk. Kort voor lank het hy ’n betrekking aanvaar by ’n internasionale maatskappy wat kwansuis groente ingevoer het.

“Ek het dikwels saamgery en moes toekyk hoe omkopery daagliks op ons grense gebeur. Hy het een van drie geword wat spesiale vragte ‘vir die baas’ vervoer het.

"Hy het een van drie geword wat spesiale vragte ‘vir die baas’ vervoer het."

“Dit was toe al die tyd smokkelsigarette. En goud. En drank. AK 47’s. Selfone. Elektriese goedere. Hy het R18 000 per week huis toe gebring en in ’n kluis toegesluit.

“Toe word een van sy makkers op Beitbrug, Musina, gevang en toegesluit. Daar is toe ’n massiewe bedrag aan die ander twee – van wie een my eksman was – oorhandig om te gaan ‘wegkruip’ vir die owerhede: die polisie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

“Veel later het ek gelees in die pers hoe baie geld betaal is om die saak te laat doodloop. Dit was senutergend om te weet jy is nou saam met jou man ’n voortvlugtige.

“Ten einde laaste is hy in die pad gesteek, en hy het ’n betrekking by ’n brandstofinvoerder van Bronkhorstspruit aanvaar. Hy werk steeds daar en het my bloot by my kinders afgelaai.” Dit was sowat drie jaar gelede. Sy het daarna eers by haar oudste seun, toe by haar dogter en toe haar jongste seun rondgeswerf.

’n Vriendin wat saam met haar eks gewerk het, vertel die manne kuier saam in ’n woonstel en bly op die perseel van die maatskappy. Vroue mag nie daar kom nie. Hulle hang heerlik in kroeë rond, sy weet uit die kere dat sy op sy foon rondgesnuffel het dat hy haar jare lank verneuk het.

Hy het steeds verhoudings met sy voormalige vroulike bestuurders. Op ’n dorp in die Noordelike Provinsie het hy glo ’n verhouding met ’n weduwee wat vragmotorversekering verkoop. “Dit laat haar wonder of hy dalk by haar man se dood betrokke was . . .”

’n Week gelede hoor sy by ander mense dat sy amptelik geskei is. “Dis nie meer nodig om hom en sy dade te beskerm nie. Maar dit is nodig om dit aan die lig te bring. Dit is nodig dat die man se manipulasie gestop word. En ook om te keer dat ’n volgende vrou in hierdie man se strik trap.”

Hy het sy kinders teen haar opgesteek, selfs beweer dat haar jongste seun sy eie lewe wou neem deur ’n oordosis heroïen. Sy het navraag gedoen en uitgevind hy was in die hospitaal met ’n maagsweer omdat hy te veel gedrink het.

“My nuutgevonde vryheid is iets besonders, wat ek baie jare gelede laas ervaar het."

“My lewe is verwoes en ek kan geen man weer ten volle vertrou nie. Maar my nuutgevonde vryheid is iets besonders, wat ek baie jare gelede laas ervaar het, voor hy in my lewe was.”

Sy was toe ’n polisievrou. “Ek is nou besig om daardie vreesloosheid terug te kry,” sê sy.

“Elke dag verskuif ek my grense, ontmoet mense en smee vriendskappe. Solank my hart my eie bly en nooit weer deur ’n onverskillige besit word nie . . .”

*Name van mense en plekke is verander om Elaine te beskerm.