Louisa Koekemoer (45) was in die gesin se huis op ’n plaas naby Mamogaleskraal by Brits toe die vrou in ’n wit motor daar opdaag. Sy het glo aangevoer sy is ’n speurder van Pretoria en moet die ma polisiekantoor toe neem vir verdere ondervraging, het Huisgenoot by ’n betroubare bron verneem.

Lt.kol. Pelonomi Makau, provinsiale polisiewoordvoerder in Noordwes, het die voorval aan Huisgenoot bevestig.

Louisa het glo laat die middag haar selfoon by die huis by haar broer, Willem Bothma, gelos en is saam met die vrou daar weg.

Hulle het glo ure lank rondgery tot in die donker stormweer wat Woensdag oor Gauteng gewoed het. Die vrou het beweer sy het verdwaal. In die ry het sy begin uitvra oor Poppie en glo geëis dat Louisa “nou die waarheid moet begin vertel”.

Klein Poppie het glo verlede Dinsdag wreed aan die hand van Kobus Koekemoer gesterf. Hy het haar na bewering doodgeskop en geslaan. Sy is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Hulle het eindelik in Roodepoort aangekom waar die vrou met Louisa in ’n parkeerterrein tot stilstand gekom het. Dit is toe dat sy ’n voorwerp uithaal wat soos ’n vuurwapen gelyk het, en Louisa na bewering daarmee pimpel en pers in die gesig en oor die kop geslaan het.

Sy het Louisa ook aan die hare rondgepluk en na bewering gedreig “sy gaan haar doodmaak soos hulle Poppie doodgemaak het”. Louisa het daarin geslaag om te ontsnap. Sy het hulp by ’n vulstasie daar naby gekry. Louisa het glo eers toe die vrou in die weghardloop op haar begin skiet, besef dis nie 'n regte vuurwapen nie, maar 'n windbuks. Sy het blou kolle waar sy getref is.

Sy het Donderdagmiddag klagte van ontvoering en aanranding by die polisie ingedien. Louisa vrees nou glo vir haar lewe.

Huisgenoot het vroeër berig Kobus, Louisa se man en Poppie se stiefpa het Donderdagoggend weer in die landdroshof op Brits op ’n aanklag van moord voorgekom. Hy het aangedui hy kort ’n paar weke om regshulp te bekom.

Hy sal dan eers om borgtog kan aansoek doen. Die saak is tot 17 November uitgestel en hy bly tot dan in aanhouding.

Talle woedende betogers het voor en ná die verrigtinge in die straat buite die hof saamgekom om hul steun vir geregtigheid vir die jong slagoffertjie te toon.

Die polisie het bevestig 'n klag van aanranding is aanhangig gemaak en dat hulle die voorval ondersoek.