“Ek het na die eerste paar dae reeds geweet dat hy nie my seun is nie,” vertel Rina Smit (77) wat onlangs uitgevind het dat die hawelose man van Pretoria nie haar seun Dennis is nie. 

Huisgenoot.com het in Junie vanjaar berig Dennis is een oggend in Februarie 1986 op die N1 buite Bloemfontein afgelaai vir ’n saamrygeleentheid na ’n werkonderhoud in Roodepoort.

“Daar is ’n rede hoekom ek nog al die jare glo Dennis is dood. Ek glo vas my Dennis is vermoor,” vertel Rina Vrydag telefonies aan Huisgenoot.com. 

“Ek is in ’n toestand. Ek hoor hoe almal oor hom (Fransua Venter) baklei. Niemand hou op nie. Ek wil eintlik niks verder hiervan hoor of lees nie.” 

Oor die emosionele ontmoeting wat op video vasgevang is, vertel Rina sy het emosioneel opgetree. 

“Ek wou só graag gehad het hy moes my seun wees. Dit was my hartsbegeerte," vertel sy. Maar na ’n paar dae het sy besef hy is nie haar verlore seun nie. 

Rina vertel sy het foto’s van Dennis weer uitgehaal en vergelyk met die man in haar huis.  

"Nee, hy was nie Dennis nie. Maar ek sal hom nooit terug strate toe stuur nie. Oor my dooie liggaam!”

Rina sê aan Huisgenoot dat sy nie vir ’n enkele sekonde deur hom bedreig voel nie. 

“Jy moet sien hoe goed hy met sy handewerk. Hy is so vriendelik met almal en hy is stil en rustig.” 

Ek wens net hulle wil ophou soek, my kind is dood

Rina vertel hoe Fransua haar in die kombuis help en tuinwerk doen.

“Ons het ook elke liewe dag gebed gedoen”. 

Rina vertel Fransua is in veilige bewaring geplaas waar hy nou behandeling ontvang. 

“Die Here help my hierdeur en gee my krag. Ek glo dit het so met ’n doel gebeur en God het ’n doel met die kind. En Desiree stem saam.” 

Maar dan sug Rina oor die foon en sê: “Ek wens net hulle wil ophou soek, my kind is dood”.