Die dag toe sy Micaela Hunter se ontvoerder ontmoet, kon sy nie glo dat dié vrou daartoe in staat was om ’n baba te steel nie.

“Sy was pragtig,” vertel ’n werknemer van korrektiewe dienste wat anoniem wil bly. “Sy was besonder netjies aangetrek en goed versorg. Haar grimering en naels was baie mooi gedoen.”

Die 44-jarige vrou het Sonja Combrink vroeg in 2003 in die Kroonstad-gevangenis ontmoet toe sy met haar opleiding besig was. Sy werk deesdae in KwaZulu-Natal.  

Destyds is die studente deur die vrouegevangenis geneem en het hulle die kans gekry om met van die vroue te gesels.

In Mei 1994 is die land geruk toe die 17 uur oue Micaela uit die Marymount–kraameenheid in Johannesburg gesteel is.

Sonja (toe 24) het aan Micaela se ma, Allison Hunter, gesê sy wil haar baba gebruik vir ’n baddemontrasie vir ongehude ma’s. Sy het die baba by haar gevat en spoorloos verdwyn.

Sonja het Micaela twee jaar lank grootgemaak as haar eie totdat haar destydse kêrel, Charles McDonald, met die klein dogtertjie by die Benoni-polisiekantoor opdaag en Sonja as die ontvoerder ontmasker. Sy is tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis.

’n Mens kon sien sy was hartseer oor wat sy gedoen het

Huisgenoot het onlangs weer 'n roerende brief gepubliseer wat Sonja aan Jacques Snyman geskryf het.

“Sy het in die biblioteek gewerk,” onthou die vrou. “Ek het vir haar gevra hoekom sy daar is en sy het vertel dat sy Micaela Hunter ontvoer het.  Ek het nog vir haar gevra hoe sy dit reggekry het. Sy het gesê sy het net by die hospitaal ingeloop en weer uitgestap. 

“ ’n Mens kon sien sy was hartseer oor wat sy gedoen het.”

Die bewaarder sê sy dink steeds baie aan Sonja en was bly om te hoor dat dit deesdae baie goed gaan met haar.

Sonja se biologiese dogter, Amber Botha, en haar man, Chris, het in ’n onlangse onderhoud met Huisgenoot vertel dat dit deesdae baie goed gaan met Sonja.

Sy beklee ’n bestuurspos by ’n maatskappy in Johannesburg en wanneer Amber en haar gesin in die omgewing is, gaan kuier hulle altyd by haar. 

“Dit is goed om te hoor dat iemand wat ’n tweede kans kry dit regtig benut,” sê die vrou.

  • In die nuutste uitgawe van jou gunstelingtydskrif praat Amber Botha, Sonja Combrink se dogter, vir die eerste keer openhartig oor haar kinderjare saam met klein Micaela en hoe sy as 28-jarige steeds antwoorde by haar ontvoerder-ma soek. “Ek wil weet of dit die moeite werd was vir haar om haar eie kinders se hele lewe weg te gooi. Ek wil weet waarom was ons nie goed genoeg vir haar nie, waarom sy gevoel het sy moes ’n ander kind steel,” vertel Amber – vandag self ’n ma van twee – in ’n roerende onderhoud met Huisgenoot se Joanie Bergh.