’N MISKOMBERS hang oor die Magaliesberg. Reëndruppels kletter op die sinkdak, maar hier in die wittebroodsuite van die luukse Red Ivory Lodge buite Hartbeespoort is die bruid se gemoed veerlig.

“Dit het vanoggend gesous,” vertel Michelle Morrison (26) met bruin oë wat vonkel. “Ek en Tony het kaalvoet in die reën rondgehol!”

Reën dit nog oor ’n uur of wat wanneer sy en haar cowboy-sanger Tony Campbell (33) voor die preekstoel staan, dan is dit so bedoel. Reën dit nie, is dit ’n absolute bonus.

Die jongste Campbell stap gou ’n draai buite om te kyk dat alles eksie-perfeksie verloop, en die bruidegom verseker ons weer: "Ek is baie rustig . . ."

Nou-nou het hy vir hom ’n boom uitgesoek, die haarkapper nader geroep en reggesit vir ’n haarsny. “Ons troue gaan net so natuurlik en gemaklik wees soos ek en Michelle is,” beduie hy.

In die bruidsuite is dit nou nog net ’n paar minute voor Michelle die klippaadjie afstap na die kapelletjie wat oor Hartbeespoortdam uitkyk. “Alles is net perfek, en dit was so maklik om die troue te reël,” vertel sy. “Behalwe dat ek Maandag met ’n maaggogga in die hospitaal opgeneem is, was daar geen krisisse nie.”

Die Pretoriase ontwerper Dennis Lloyd, wat ook bekendes soos Cindy Nell Roberts se trourok gemaak het, moes inderhaas die rok verstel toe die reeds skraal Michelle se middellyf weens die siekte nog ’n sentimeter of wat gekrimp het. “Ek het op ’n drup in die hospitaal gelê, maar nou is ek weer piekfyn!”

Sy glip die skepping van tafsy, net en Swarovski-kristalle aan en sy is ’n prentjie van elegansie. “Michelle het vir my gesê sy wil kerk toe in ’n trougewaad, en onthaal toe in ’n feesrokkie,” vertel Dennis terwyl hy die bostuk regtrek. Hy het tien weke aan die rok gewerk en fluister dat die versekerde waarde R40 000 is.

Oplaas stap Michelle aan pa Eddie se arm na die kapel, en sy skitter nes een van die 6-karaat-Swarovski’s op haar heup.

Hul troue is ’n behoorlike bruilofsfees wat hulle saam met familie en net ’n paar uitsoekgaste in die musiekbedryf vier.

Sien al die pragfoto's en lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 3 Februarie 2011.